Nuus 07:00
BULLETIN 17 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê hy sal nie deur Elon Musk geboelie word nie
# Die Plaaswerkersorganisasie verwelkom die arrestasie van twee polisiebeamptes in die Wes-Kaap
# En die moord op ‘n tiener in Oostenryk, was ‘n Islamitiese aanval
# Die EFF-leier Julius Malema sê hy gaan nie deur Amerika se president Donald Trump of miljardêr Elon Musk geboelie word nie. Musk sê sanksies moet teen Malema ingestel word en hy moet ‘n internasionale misdadiger verklaar word weens sy omstrede sosialemedia-inskrywing in 2018 dat witheid se keel afgesny moet word. Hy het Sondag die hoofrede by die St. Paul African Apostolic Church in Soweto gelewer en gesê sulke aanvalle sal nie keer dat hy sy werk doen nie:
Malema het ook herhaal dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag uit die Demokratiese Republiek die Kongo moet onttrek. Veertien SANW-soldate wat in Januarie deur M23-rebelle in die oostelike DRK doodgemaak is terwyl hulle op ʼn vredesending was, is Donderdag gerepatrieer. Malema het gesê die SANW is nie goed genoeg voorberei om in die DRK te veg nie:
# The DA in Ekurhuleni sê hy is bekommerd dat inwoners gestraf gaan word met kragonderbrekings as gevolg van die ANC-EFF-ASA koalisie se mislukking om die metro se Eskom-rekening te betaal. Die kragverskaffer het ‘n kennisgewing uitgereik in verband met verlengde kragonderbrekings as gevolg van onbetaalde elektrisiteitsrekeninge. Brandon Pretorius van die DA sê die metro skuld Eskom meer as 2,3-miljard-rand, terwyl ‘n verdere 1,5-miljard-rand op 7 Maart betaal moet word:
# Die Landelike en Plaaswerkersontwikkelingorganisasie het die inhegtenisneming van twee polisielede in die Swartland-streek van die Wes-Kaap verwelkom. Die lede wat by die Moorreesburg polisiestasie gestasioneer is, word beskuldig van die ontvoering en verkragting van ‘n 27-jarige vrou. Billy Claasen van die organisasie sê hulle is baie bekommerd en beklemtoon die aanhoudende gevalle van misbruik van mag binne wetstoepassing:
# Die Oostenrykse regering sê die aanval Saterdag waarin ʼn 14-jarige seun doodgesteek en vyf ander gewond is, was ʼn Islamitiese aanval. ʼn Drie-en-twintigjarige Siriese man is kort na die aanval vasgetrek. Die minister van Binnelandse Sake, Gerhard Karner, sê ʼn vlag van die Islamitiese Staat is in die verdagte se woning gevind en hy het ook ʼn eed van getrouheid aan IS afgelê. Hy sê die verdagte het ʼn wettige verblyfpermit en geen misdaadrekord nie, en het nie voorheen owerhede se aandag getrek nie.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Wilco Nienaber het sy tweede NTT DATA Pro-Am-titel opgeraap nadat hy met sewe houe by Fancourt in die Wes-Kaap gewen het. Hy is nou deel van ʼn uitgelese groep van slegs vier spelers wat die titel twee keer kon wen in die toernooi se 30-jarige bestaan. Die ander drie is Nick Price, Darren Fichardt en Oliver Bekker. Nienaber se landgenoot, Jean-Paul Strydom, was tweede op 20 onder 66. In die vroueafdeling het nog ʼn Suid-Afrikaner, Danielle du Toit, die titel in die uitspeelronde gewen en haar eerste Sonskyn-damestoer gebuit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-527-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-895-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….