Nuus 09:00
BULLETIN 15 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU is diep bekommerd oor Trump se aankondiging van waarskynlike tariewe op Suid-Afrikaanse uitvoere
# 2024 was die dodelikste jaar vir joernaliste in meer as drie dekades
# En rugby: Stormers maak vier veranderings vir VRK-wedstryd teen Leeus
# Cosatu sê hy is diep bekommerd oor die president van Amerika Donald Trump se aankondiging van moontlike tariewe op uitvoere deur Suid-Afrika en ander lande. Die Cosatu-woordvoerder Matthew Parks, sê dit bedreig duisende Suid-Afrikaanse werksgeleenthede in talle sektore, waaronder landbou, mynbou, juweliersware, chemikalieë, die motorbedryf en klerasie. Hy sê met ‘n werkloosheidskoers van 41,9-persent kan Suid-Afrika nie bekostig om nog werksgeleenthede te verloor nie:
# Eskom sê die kragstelsel bly bestendig en beurtkrag is steeds opgeskort. Die woordvoerder Daphne Mokwena sê die stelsel het ook genoeg reserwekrag. Sy sê van 1 April verlede jaar tot 14 Februarie was beurtkrag opgeskort vir 317 dae, vergeleke met die 32 dae oor dieselfde tydperk verlede jaar. Sy voeg by elektrisiteitstoevoer is 99-persent van die tyd beskikbaar, vergeleke met net 10-persent verlede jaar:
Wat diesel betref sê Eskom besparings vir die jaar-tot-datum duur voort en het meer as 17-miljard-rand bereik, wat 61,2-persent minder is as die 28,7-miljard-rand wat verlede jaar bestee is. Dit is ‘n verbetering van meer as een-miljard-rand vergeleke met die vorige week. Eskom se woordvoerder Daphne Mokwena sê tussen April verlede jaar en Februarie is ongeveer 11,13-miljard-rand bestee aan brandstof vir sy oopsiklus-gasturbinevloot, wat minder is as wat begroot is en een-duisend-825-gigawatt-uur opgewek het:
# Verlede jaar was die dodelikste vir joernaliste in meer as drie dekades en die meeste van hulle is in die Midde-Ooste dood. Volgens ‘n verslag deur die komitee vir die beskerming van joernaliste, het minstens 124 joernaliste en mediawerkers in 2024 gesterf. Byna 70-persent hiervan was weens optrede deur die Israelse weermag in Gaza en Libanon, met 82 Palestynse joernaliste in Gaza wat dood is. Die Israelse weermag ontken in ‘n verklaring aan CNN dat hulle mediawerkers teiken en sê daar is inherente risiko’s verbonde om in ‘n aktiewe gevegsone te wees.
# En rugby: Die Stormers se afrigter John Dobson het vier veranderings aangebring aan sy opdrafspan vir vanmiddag se Verenigde Rugby Kampioenskapkragmeting teen die Leeus in Johannesburg. JJ Kotze begin as haker in die plek van Joseph Dweba, en Ali Vermaak is terug na ‘n besering en vervang Sti Sithole as loskopstut. In die agterlyn skuif Herschel Jantjies in van die plaasvervangersbank af in Stefan Ungerer se plek as skrumskakel, en Angelo Davids speel op linkervleuel in die plek van Leolin Zas, wat die week weens ongesteldheid onttrek is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….