Nuus 08:00
BULLETIN 15 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Popcru veroordeel die Tesourie oor sy versuim om Korrektiewe Dienste finansieel te ondersteun
# ActionSA kritiseer die ANC se hantering van die dwelmkrisis
# En rugby: Louw is terug na ‘n besering om die Leeus se middelveld te versterk teen die Stormers
# Die Polisie- en Gevangenisse-Burgerregte-Unie sê die versuim van Nasionale Tesourie om die Departement van Korrektiewe Dienste te vergoed vir uitstaande aanpassings vir lewenskoste het hulle in finansiële nood gelaat. Die vakbond waarsku voortgesette besnoeiings aan die begroting van meer as 12-miljard-rand oor vyf jaar sal rehabilitasieprogramme verlam, oorbevolking vererger en korrektiewe amptenare in gevaar stel. POPCRU-woordvoerder Richard Mamabolo eis dringende befondsing om die veiligheid van personeel en gevangenes te verseker, terwyl doeltreffende korrektiewe dienste voortgaan:
# ActionSA veroordeel die versuim van die ANC-geleide regering om Suid-Afrika se toenemende dwelmkrisis aan te pak. ActionSA-woordvoerder, Dereleen James, kritiseer die ANC se afwysende opmerkings oor die Sentrale Dwelmowerheid se pleidooi vir ondersteuning en beskryf dit as ‘n blatante mislukking van leierskap. James doen oplossings aan die hand, insluitend die ontplooiing van die weermag na bende-brandpunte, die dekriminalisering van dwelmgebruik en verpligte rehabilitasie. Sy vra ondersteuning vir gemeenskappe waar verslawing en misdaad hoogty vier:
# Eskom sê die kragstelsel bly bestendig en beurtkrag is steeds opgeskort. Die woordvoerder Daphne Mokwena sê die stelsel het ook genoeg reserwekrag. Sy sê van 1 April verlede jaar tot 14 Februarie was beurtkrag opgeskort vir 317 dae, vergeleke met die 32 dae oor dieselfde tydperk verlede jaar. Sy voeg by elektrisiteitstoevoer is 99-persent van die tyd beskikbaar, vergeleke met net 10-persent verlede jaar:
# Rugby: Die senter Marius Louw keer terug na ‘n besering vir die Leeus in vandag se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Stormers in Johannesburg. Hy sal Henco van Wyk se sentermaat wees. Gianni Lombard speel losskakel ten koste van Sam Francis, wat swak geskop het in die onlangse wedstryd teen die Bulle. Die enigste ander verandering aan die opdrafspan is op slot, waar Darrien Landsberg vir Ruan Delport vervang. Die Leeus is tans 13de op die punteleer en die Stormers tiende. Afskop op Ellispark is 2.30.
# En president Volodymyr Zelensky het tydens ‘n vergadering met die Amerikaanse visepresident JD Vance op die jaarlikse Münchense Sekerheidskonferensie in Duitsland gesê nog werk is nodig aan ‘n plan vir die beïndiging van die oorlog in Oekraïne. Zelensky het vroeër gesê hy sien nie ‘n “Amerikaanse plan wat gereed is”nie. Ondanks ‘n voorstel deur president Donald Trump vir onderhandelings tussen die VSA, Rusland en Oekraïne vandag in München, is Rusland nie by die spitsberaad nie en ook nie genooi na die vergadering nie. Rusland se volskaalse inval in Oekraïne het byna drie jaar gelede begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….