Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dringende opgraderings is nodig vir Suid-Afrika se kragnetwerk
# Drie mans is skuldig aan pogings om Michael Schumacher se familie af te pers
# En krieket: Sri Lanka verneder Australië in die tweede eendagwedstryd in Colombo
# Die Nasionale Transmissiemaatskappy sê Suid-Afrika se netwerkinfrastruktuur is nie geskik om ekonomiese groei of nuwe hernubare energiebronne te ondersteun wat noodsaaklik is vir die billike energie-oordrag nie. Die maatskappy beplan om teen 2035 transmissielyne met 14-duisend-kilometer uit te brei, maar ondervind uitdagings ten opsigte van oprigtingsvermoë en finansiering. Bedryfsleiers pleit vir onafhanklike transmissieprojekte om beleggings te lok en opgraderings te versnel. Die maatskappy sê die privaat sektor se gereedheid onderstreep die behoefte aan versnelde netwerk-uitbreiding om ekonomiese bedrywighede aan te wakker en plaaslike nywerhede te laat herleef.
# Die Personeelvereniging van die Motorbedryf veroordeel Volvo Suid-Afrika oor die aankondiging van sy herstruktureringsplanne sonder om hulle te raadpleeg. Volvo het volgens die vereniging nie voldoen aan die Wet op Arbeidsverhoudinge nie, waarin raadpleging vereis word voor moontlike afdankings. Die vereniging se woordvoerder, Sonja Carstens, sê dis onaanvaarbaar dat werknemers in die media moes uitvind oor die moontlike sluiting van handelaars, wat net onnodige paniek gesaai het:
# Drie mans is in Duitsland skuldig bevind aan afpersing van die Formule Een-legende Michael Schumacher se gesin. Hulle het gedreig om 900 privaat foto’s en byna 600 video’s op die donkerweb te publiseer as hulle nie 290-miljoen-rand opdok nie, en gedreig om digitale afskrifte van Schumacher se mediese rekords te publiseer. Die 53-jarige baasbrein is drie-jaar tronkstraf opgelê en sy seun ‘n opgeskorte vonnis van ses-maande. ‘n Voormalige werknemer van ‘n sekerheidsfirma wat vir die Schumachers werk, het ‘n opgeskorte vonnis en ‘n boete van 46-duisend-rand gekry.
# Krieket: Sri Lanka het Australië verneder in die tweede eendagwedstryd in Colombo en met ‘n allemintige 174 lopies gewen. Die gashere het in hulle 50 boulbeurte 281 vir vier aangeteken met Kusal Mendis 101 en kaptein Charith Asalanka ʼn onoorwonne 78. Die besoekers is daarna binne 25 boulbeurte uitgeboul vir 107 met kaptein Steve Smith se 29 die hoogste telling. Dunith Wellalage het vier paaltjies geneem en Asitha Fernando en Wanindu Hasaranga elk drie. Sri Lanka het die eerste eendagwedstryd met 49 lopies gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-790-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-924-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: Die Neurologiese Vereniging van Suid-Afrika vra die regering om die groot gaping in epilepsie-behandeling dringend te hanteer. Bewyse toon die behandelingsgaping vir epilepsie in lae-inkomstelande is tot 90-persent. ʼn Woordvoerder van die vereniging, Rajeshree Govender, sê die beperkte beskikbaarheid van medikasie teen aanvalle is ʼn groot struikelblok, en word dikwels veroorsaak deur kwessies wat met medikasie se beskikbaarheid en bekostigbaarheid verband hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….