Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF vra die beëindiging van wapenverkope aan Israel
# Atletiek: ‘n Noorweër stel twee wêreldrekords op op ‘n byeenkoms in Frankryk
# En SANTACO deel rose uit by die Bosman-taxistaanplek in Pretoria
# Die EFF is diep bekommerd oor aanduidings van baie ernstige oortredings van Suid-Afrika se verbod op wapenverkope aan Israel. Die party voer aan Suid-Afrikaanse wapenvervaardigers het in 2023 wapens ter waarde van 3,3-miljard-rand verkoop aan lande wat onder die grootste verskaffers aan Israel tel, insluitend Amerika, Duitsland, Hongarye, Italië en Frankryk. Die EFF eis die regering moet die swak en onbekwame administrasie van wapenuitvoere dringend hervorm en die vermoë van die Nasionale Komitee op Konvensionele Wapenbeheer versterk om aan sy wetlike mandaat te voldoen.
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, versoek inwoners om onwettige waterverbindings te stop en waterverbruik te verminder terwyl die stad met watertekorte worstel. Morero het op ‘n nuuskonferensie planne aangekondig om boorgate te sink by skole, hospitale en in informele nedersettings. Hy beklemtoon hierdie ingrypings sal teen die einde van die boekjaar begin om die krisis te versag en volhoubare watertoegang te verseker:
# Die Gautengse regering gaan sy poging opskerp om die provinsie te vestig as ‘n voorste beleggingspilpunt. Die LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, het die Gautengse Beleggingsentrum van stapel gestuur, wat ‘n eenstop-beleggings-bemiddeling-spilpunt is gemik op die vermindering van rompslomp en die versterking van beleggersvertroue. Die beleggingspoging sal uitloop op die Gautengse Beleggingskonferensie in April. Valdene Reddy van die Johannesburgse Aandelebeurs sê die doel is om oor die volgende drie jaar 800-miljard-rand se beleggingsbeloftes in te win:
# Atletiek: Jakob Ingebrigtsen van Noorweë het nuwe wêreldrekords opgestel in die binnenshuise myl en die binnenshuise een-duisend-500-meter op ‘n byeenkoms van Wêreldatletiek in Lievin, Frankryk. Hy het die rekord in die myl verbeter wat die Amerikaner Yared Nuguse net vyf dae gelede opgestel het, en meer as ‘n sekonde vinniger geëindig in drie-minute-45,14-sekondes. Ingebrigtsen se tyd van drie-minute-29,36-sekondes in die duisend-500 verbeter sy eie rekord wat hy drie jaar gelede op dieselfde byeenkoms opgestel het. Die 24-jarige het goud verower in die langafstande op die vorige twee Olimpiese Speles.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-23-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-937-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-16-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad vier Valentynsdag deur rose aan pendelaars en taxibestuurders uit te deel by die Bosman-taxistaanplek in Pretoria. Dit is deel van SANTACO se deurlopende verbintenis tot sy Hlokomela-veldtog, wat gefokus is op kliëntediens. Die nasionale woordvoerder, Mmatshikhidi Rebecca Phala, het aan SABC News gesê hulle wil vandag graag hul opregte waardering toon:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….