Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met atletiek: Jakob Ingebrigtsen van Noorweë het nuwe wêreldrekords opgestel in die binnenshuise myl en die binnenshuise een-duisend-500-meter op ‘n byeenkoms van Wêreldatletiek in Lievin, Frankryk. Hy het die rekord in die myl verbeter wat die Amerikaner Yared Nuguse net vyf dae gelede opgestel het, en meer as ‘n sekonde vinniger geëindig in drie-minute-45,14-sekondes. Ingebrigtsen se tyd van drie-minute-29,36-sekondes in die duisend-500 verbeter sy eie rekord wat hy drie jaar gelede op dieselfde byeenkoms opgestel het. Die 24-jarige het goud verower in die langafstande op die vorige twee Olimpiese Speles.
# Krieketnuus: Drie Pakistanse spelers is beboet oor onderonsies met Protea-spelers gedurende Woensdag se Drienasies-wedstryd in Karatsji. Shaheen Shah Afridi moet 25-persent van sy wedstrydfooi afstaan nadat hy skuldig bevind is aan onvanpaste liggaamlike kontak gedurende sy rusie met Matthew Breetzke. Saud Shakaal and Kamran Ghulan is met 10-persent elk beboet omdat hulle te naby aan Temba Bavuma feesgevier het nadat hy uitgeloop is. Pakistan het met ses paaltjies gewen en speel vandag teen Nieu-Seeland in die eindstryd van die kort reeks.
# Vervolgens, rugby: Die Wallabie-skrumskakel Nic White hoop hy kan vanjaar teen die Britse en Ierse Leeu-toerspan speel nadat hy 12 jaar gelede die geleentheid misgeloop het. Hy is in 2013 as een van die opkomende sterre in Australië beskou, maar ‘n ernstige skouerbesering het hom op die kantlyn gehou. Volgens White voel dit asof die meetsnoere vanjaar vir hom op lieflike plekke gaan val. Die Leeus het die Wallabies in 2013 2-1 verslaan en is vanjaar weer die gunsteling, want Australië beïndruk nie die afgelope jare nie.
# Ons kom by motorsport: Die McLaren-renjaer Lando Norris sê hy is vasbeslote om die bestuurderskampioenskap vanjaar weer uit te daag met die nuwe Formule Een-seisoen wat volgende maand in Australië begin. Die Brit het McLaren verlede jaar gehelp om die eerste vervaardigerskroon sedert 1998 te buit. Hy het egter klaargemaak met 63 punte minder as Max Verstappen van Red Bull, wat sy vierde agtereenvolgende bestuurderstitel ingepalm het. Norris sê hy moet slim te werk gaan in sy stryd teen Verstappen:
# En sluit af met sokker: Die gasheer, Saoedi-Arabië, gaan sy verbod op sterk drank handhaaf tydens 2034 se Wêreldbekertoernooi, maar lede van die LGBTQ Plus-gemeenskap word verwelkom. Die koninkryk het die gebruik van alkohol in 1952 verbied. Dit is ook nie tydens die Wêreldbekertoernooi in Katar in 2022 toegelaat nie, maar bier was beskikbaar in toegewese sones. Saoedi-Arabië se ambassadeur in Brittanje, Khalid bin Bandar Al Saud, sê mens kan steeds pret hê sonder alkohol. Hy sê ook almal is welkom, want dit is ʼn wêreld-geleentheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….