Nuus 07:00
BULLETIN 14 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die 14 SANW-soldate het in ‘n soeke na vrede gesterf
# Sakeliga is bekommerd omdat minister Steenhuisen BEE in die landbousektor verpligtend maak
# En Suid-Afrika beklee die 11de plek in ‘n wêreldwye liefdeslewe-tevredenheidspeiling
# President Cyril Ramaphosa sê die 14 soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat in die Demokratiese Republiek die Kongo dood is, het hul lewens verloor in ‘n soeke na vrede en om gewere in Afrika stil te maak. Hy het die oorhandiging van die soldate se oorskot aan hulle families Donderdagaand by die militêre lugmagbasis in Pretoria waargeneem. Ramaphosa sê Suid-Afrika bly daartoe verbind om alle prosesse te ondersteun om hierdie konflik te beëindig:
Die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Rudzani Maphwanya, het by dieselfde geleentheid mense veroordeel wat die ontplooiing van soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo bevraagteken. Maphwanya sê ʼn nasie in rou moenie beskuldigings rondslinger oor die soldate se ontplooiing nie:
# Die sakeorganisasie Sakeliga sê dis nadelig dat die Landbouminister, John Steenhuisen, swart ekonomiese bemagtiging in die landbousektor uitbrei. Die minister behou AgriBEE, wat die departement se amptelik aanvaarde beleid is om BEE in landbou verpligtend te maak. Hy is ook besig om verskeie hervormingsfondse regstreeks onder AgriBEE te vestig. Sakeliga sê dit alles plaas aansienlike druk op Suid-Afrika se reeds gespanne internasionale handelsverhoudinge. Hy voeg by hy beraadslaag met sy regspan oor sy volgende stappe.
# Die EFF in Gauteng veroordeel die voortslepende waterkrisis in dele van die Stad Johannesburg, en sê dis die regstreekse gevolg van verskeie administrasies se dekades lange onbevoegdheid, korrupsie en verwaarlosing. Volgens Johannesburg Water is die droë krane die gevolg van te hoë gebruik en kragonderbrekings in die Emfuleni-munisipaliteit, wat keer dat water na Rand Water se Forest Hill- en Eikenhof-stelsels gepomp word. Die EFF-woordvoerder, Dumisani Baleni, sê die waterkrisis se uitwerking is vernietigend en raak dienslewering:
# Rugby: Die Wallabie-skrumskakel Nic White hoop hy kan vanjaar teen die Britse en Ierse Leeu-toerspan speel nadat hy 12 jaar gelede die geleentheid misgeloop het. Hy is in 2013 as een van die opkomende sterre in Australië beskou, maar ʼn ernstige skouerbesering het hom op die kantlyn gehou. Volgens White voel dit asof die meetsnoere vanjaar vir hom op lieflike plekke gaan val. Die Leeus het die Wallabies in 2013 verslaan en is vanjaar weer die gunsteling, want Australië beïndruk nie die afgelope jare nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-757-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-926-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-98-sent per vat.
# Die jongste Ipsos liefdeslewe-tevredenheidstudie toon Suid-Afrikaners is van die gelukkigste verliefdes en beklee die elfde plek wêreldwyd. Die opname in 30 lande toon 80-persent voel geliefd, en 87-persent van die paartjies wat deelgeneem het, is in gelukkige verhoudings. Suid-Afrikaners ervaar verder ook meer romantiese bevrediging as in baie Europese lande. Robyn Williams van Ipsos sê die bevindings beklemtoon ‘n sterk kultuur van liefde en verbintenis, wat beteken Suid-Afrika is ‘n romantiese spilpunt hierdie Valentynsdag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….