Nuus 06:00
BULLETIN 14 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa onderneem om werkskepping te bevorder en beleggings te lok
# Die motor wat tussen ’n skare in München injaag is moontlik ’n aanval
# En krieket: Drie Pakistanse spelers word beboet oor onderonsies met Proteas
# President Cyril Ramaphosa verbind hom om met voortdurende ekonomiese hervormings werkskepping te dryf en beleggings te lok. Hy het in sy repliek op die debat oor die staatsrede gewys op vordering wat gemaak is met strukturele hervormings onder Operasie Vulindlela, insluitend pogings om die sake-omgewing te verbeter, infrastruktuur op te knap en die energiesektor te ondersteun. Ramaphosa sê dat die fokus op sektore soos toerisme, landbou en infrastruktuur die sleutel is om groei aan te dryf en werk te skep:
Die President verwelkom ook voorstelle om die onderwysstelsel te verbeter. Hy versoek beter vroeëkinderjare-onderwys, verbeterde tegniese en beroepsopleiding, en verhoogde ondersteuning vir entrepreneurskap. Ramaphosa sê ‘n geskoolde arbeidsmag is noodsaaklik vir ekonomiese groei en werkskepping, en beklemtoon die behoefte aan transformasie in die onderwys om te kan voldoen aan die arbeidsmark se veranderende eise:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana het die regulasies vir openbare-privaatvennootskappe gewysig om broodnodige infrastruktuur te lewer en die druk op die staat te verlig. Die Nasionale Tesourie sê hoewel die ekonomiese landskap oor die jare aansienlik verander het, het die regulatoriese raamwerk vir openbare-privaatvennootskappe vir byna 15 jaar staties gebly. Een van die wysigings is om departemente te bemagtig om toegewyde eenhede te stig met ‘n programmatiese benadering om dié vennootskappe te ondersteun.
# Die Stad Tshwane gee aandag aan bekommernisse oor die watergehalte by die Klipdrift Magalies-wateraanleg wat Hammanskraal bedien. Inwoners in gebiede wat geraak word, insluitend Mandela Village, Marokolong, Ramotse, Kekana Gardens en die Babelegi-nywerheidsgebied, word aangeraai om nie die water te drink totdat die toetse afgehandel is nie. Die stad se woordvoerder, Zintle Mahlati sê die probleem het ontstaan nadat ‘n kragonderbreking verlede Woensdag die herstelwerk vertraag het, wat ‘n verswakking in die watergehalte veroorsaak het:
# Die polisie sê die bestuurder van ‘n motor wat gister in die Duitse stad, München, in ‘n groep mense ingeploeg het, is ‘n 24-jarige Afgaanse asielsoeker. Minstens 28 mense is beseer toe die motor in ‘n betoging deur die vakbond, Verdi, vasgejaag het. Owerhede beskou die voorval as ‘n moontlike aanval en plaaslike amptenare sê die polisie is bewus van die verdagte weens oortredings vir diefstal en dwelms. Die ongeluk het gebeur slegs ure voor wêreldleiers in die stad sou aankom vir die Münchense Veiligheidskonferensie.
# Krieket: Drie Pakistanse spelers is beboet oor onderonsies met Protea-spelers gedurende Woensdag se Drienasies-wedstryd in Karatsji. Shaheen Shah Afridi moet 25-persent van sy wedstrydfooi afstaan nadat hy skuldig bevind is aan onvanpaste liggaamlike kontak gedurende sy rusie met Matthew Breetzke. Saud Shakaal and Kamran Ghulan is met 10-persent elk beboet omdat hulle te naby aan Temba Bavuma feesgevier het nadat hy uitgeloop is. Pakistan het met ses paaltjies gewen en speel vandag teen Nieu-Seeland in die eindstryd van die kort reeks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-476-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-929-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….