Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa gaan die oorhandiging-seremonie vir gesneuwelde SANW-soldate behartig
# Krieket: Patidar volg Du Plessis op as kaptein van RCB
# En ‘n slangkenner reik ‘n waarskuwing uit nadat ‘n sesjarige sterf na ‘n Kaapse kobra hom gepik het
# President Cyril Ramaphosa sal die oorhandiging-seremonie behartig van die oorskot van 14 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat in die Demokratiese Republiek die Kongo gesterf het terwyl hulle op ‘n vredesending was. Die seremonie vind vanaand op die Lugmagbasis Swartkop in Pretoria plaas waar Ramaphosa, die minister van Verdediging, Angie Motshekga, en die hoof van die Weermag, Rudzani Maphwanya, die gesneuwelde soldate sal vereer. Ramaphosa het in die Parlement gesê ‘n gedenkdiens sal onmiddellik ná die oorhandiging plaasvind:
Ramaphosa kritiseer intussen ontkenning in die debat oor die staatsrede en versoek Parlementslede om met opbouende voorstelle vorendag te kom vir vordering eerder as om op negatiewe retoriek te hamer. Hy het in sy reaksie op die debat oor die staatsrede erken daar was uiteenlopende standpunte, insluitend oor ekonomiese groei en grondhervorming. Ramaphosa sê die partye in die regering van nasionale eenheid stem dalk nie altyd saam nie, maar werk goed saam:
# ‘n Amerikaanse federale regter het president Donald Trump se bevel blokkeer om die Presidensiële Noodplan vir Befondsing van Vigshulp te bevries. Dit laat die hervatting van die Sentrums vir Siektebeheer se befondsing aan MIV-programme in Suid-Afrika toe. Trump het teen die uitspraak geappelleer en ‘n beslissing word môre verwag. Die toekoms van die program is steeds onseker aangesien die Kongres dit teen die einde van volgende maand weer moet goedkeur. Die Trump-administrasie het te kenne gegee hy wil befondsing uitfaseer en globale gesondheidsorganisasies bly bekommerd.
# Krieket: Rajat Patidar sal die Suid-Afrikaner Faf du Plessis opvolg as kaptein van Royal Challengers Bengaluru in hierdie jaar se Indiese Premierliga wat die 21ste van volgende maand begin. Du Plessis gaan vir Delhi Capitals speel. Die 31-jarige Patidar het in 2021 by RCB aangesluit en sedertdien ontwikkel as ‘n sleutelkolwer vir die span. Hoofafrigter Andy Flower sê sy persoonlikheid het hom die kapteinskap besorg. RCB het oor die jare van die grootste name in krieket gelok, maar bly steeds onder-presteerders in die IPL.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-872-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-913-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Herpetoloog waarsku dit is tans slangbytseisoen in die Wes-Kaap en maan mense om nie slange te treiter nie. Dit volg na die dood van die sesjarige Dee-Jay Don aan die Weskus nadat ’n Kaapse kobra hom gepik het terwyl hy saam met sy ma gerus het. Hoewel hy teengif toegedien is in Vredenburg se hospitaal, het hy dit nie oorleef nie. Johan Marais sê om slange uit te lok kan ernstige gevolge hê:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….