Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gesondheidskoalisie stel verpligte mediese fonds-dekking vir hoër-inkomstegroepe voor
# Europese lande wil deel wees van onderhandelings om die oorlog in Oekraïne te beëindig
# En krieket: Die Proteas wil sekere verbeterings aanbring voor die Kampioenetrofee
# Die Universal Healthcare Access-koalisie het verpligte mediese fonds-dekking voorgestel vir hoër-inkomstegroepe, wat deel sal vorm van sy plan om die gesondheidsorgstelsel te hervorm. Die koalisie, wat gesondheidsorgwerkers en voorspraakgroepe insluit, sê sy voorstel sal bekostigbaarheid en toeganklikheid verbeter terwyl ‘n mededingende privaat sektor steeds gehandhaaf word. Alex van den Heever van die koalisie voer aan die Nasionale Gesondheidsversekering is onwerkbaar en finansieel onvolhoubaar:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê sy departement gee voorkeur aan hernubare energieprojekte soos son-, wind- en hidrokrag. Die minister het die goedkeuringsprosesse van hierdie soort projekte meer vaartbelyn gemaak. Dit sluit sonkrag- en battery-aanlegte uit van omgewingsgoedkeuring in sensitiewe gebiede. Elf hernubare energiesones en vyf transmissie-roetes vir groenenergieprojekte is ook geïdentifiseer. George sê die Groenwaterstof-riglyn word volgende week bekendgestel om die land se energie-oorgang te bevorder.
# ‘n Nuwe vennootskap tussen die Wes-Kaapse regering, Transnet-haweterminale en rolspelers in die bedryf gaan bedrywighede op die Kaapstadse hawe se houerterminaal verbeter. Twee kragopwekkers van 500 kilovolt-ampère elk gaan aangebring word sodat die terminaal se vermoë vergroot kan word tydens die hoogtepunt van sagtevrugte-uitvoere. Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê hierdie projek is ʼn goeie voorbeeld van privaat vennootskappe se mag om ekonomiese groei en ontwikkeling te bevorder.
# Sewe Europese lande, wat Brittanje, Frankryk en Duitsland insluit, dring daarop aan om deel te wees van enige toekomstige vredesonderhandelings om Rusland se oorlog teen Oekraïne te beëindig. Dit volg nadat president Donald Trump van Amerika met die Russiese president, Vladimir Putin, gepraat en die twee ooreengekom het om onmiddellik met vredesamesprekings te begin. Die ministers van Buitelandse Sake sê in ʼn gesamentlike verklaring Oekraïne moet sterk veiligheidswaarborge kry. Hulle voeg by regverdige en blywende vrede is in die land nodig vir behoorlike trans-Atlantiese sekerheid.
# Krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, sê sekere aspekte van hul spel moet verbeter voor die Kampioenetrofee volgende week in Pakistan begin. Pakistan het Suid-Afrika gister in hul Drienasieswedstryd in Karatsji met ses paaltjies verslaan en daarmee hul plek in môre se eindstryd teen Nieu-Seeland bespreek. Die Proteas begin hul aanslag in die kompetisie volgende Vrydag teen Afganistan. Bavuma sê hulle sal ‘n veelsydige vertoning moet lewer in moeilike kolftoestande:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-105-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-913-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….