Nuus 07:00
BULLETIN 13 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die liggame van die 14 soldate wat in die DRK omgekom het, sal vandag in Suid-Afrika aankom
# Die ACDP waarsku die verlies van AGOA sal ernstige gevolge hê
# En krieket: Daar is geen planne om die SA20 verder uit te brei nie
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê die liggame van die 14 soldate wat in skermutselings in die Demokratiese Republiek die Kongo dood is, kom vandag in die land aan. Die soldate wat deel was van die Verenigde Nasies se vredesending in die DRK, is dood in ‘n aanval deur M23-rebelle wat deur Rwanda ondersteun word. Die oorhandiging van die oorskot aan families en ʼn gedenkdiens vind vanaand by die Swartkop Lugmagbasis in Centurion plaas.
# Die leier van die ACDP, Kenneth Meshoe sê werkloosheid bly te hoog, en talle gekwalifiseerde dokters sukkel om werk te kry. Hy waarsku indien die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika wegval, kan dit ernstige ekonomiese gevolge vir Suid-Afrika inhou. President Cyril Ramaphosa se staatsrede het gister vir die tweede dag onder die loep gekom. Meshoe het tydens die debat gesê die ACDP ondersteun ‘n afvaardiging wat na die Verenigde State gaan om met die nuwe administrasie oor handelsbetrekkinge in gesprek te tree:
# Die Nasionale Loterykommissie het die spertyd vir befondsingsaansoeke vir die 2024/25-boekjaar, van 28 Februarie tot 31 Maart vanjaar verleng. Dit gee organisasies sonder winsbejag meer tyd om aansoeke in te dien op die nuwe aanlyn platform. Kommissaris Jodi Scholtz het hulptoonbanke aangekondig wat deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gesteun word vir regstreekse bystand in al die provinsies. Organisasies kan ook afstandhulp kry by die kommissie se kantore.
# Die parlementêre Regsdienste sê die Zoeloe-koning, Misuzulu kaZwelithini, het wederregtelik opgetree en sy hand oorspeel toe hy lede van die Ingonyama Trust geskors het voordat hy homself as voorsitter aangestel het. Die parlementêre portefeuljekomitee oor Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het Woensdag ʼn regsmening ontvang oor die grondslag van die Trust en sy raad, eienaarskap en die minister se magte. Die Parlement se regsadviseur, Bulelani Simani, sê koning Misuzulu het teen die wet opgetree:
# Twee Australiese verpleegkundiges is geskors na ‘n video waarin hulle dreig om Israelse pasiënte dood te maak en spog dat hulle weier om hulle te behandel. Volgens die BBC is die beeldmateriaal in ‘n hospitaal opgeneem. Die man en vrou, albei werknemers by ‘n hospitaal in Sydney, word deur die polisie ondersoek. Die Australiese premier, Anthony Albanese, veroordeel die video as “walglik en skandalig”. Dit kom minder as ‘n week nadat Australië strenger wette teen haatmisdade aanvaar het na ‘n vlaag hoëprofiel-anti-Semitiese aanvalle.
# Krieket: Die uiters gewilde SA20 sal minstens die volgende twee seisoene nie vergroot word nie. Oproepe vir nog ‘n span, sentraal geleë in Bloemfontein of Kimberley of noordwaarts in Limpopo, het toegeneem na die welslae van die eerste drie seisoene. Die kompetisie se kommissaris, Graeme Smith, sê hulle is kontraktueel verbind tot ses spanne vir die eerste vyf seisoene. Hy wil hê die huidige spanne moet hulle voete vind, hulleself vestig en groei. Die vierde seisoen begin op 26 Desember vanjaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-806-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-902-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….