Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party beskryf Ramaphosa se staatsrede as ‘n mislukte, leë poging
# Ses kontrakteurs van City Power in Johannesburg word aangekeer vir koperkabeldiefstal
# En tennis: Daar is woede oor die nuwe formaat van die gemengde dubbelspel op die Amerikaanse Ope
# Die MK-party het president Cyril Ramaphosa se staatsrede bestempel as leë retoriek en herwinde beloftes. Die party voer aan daar was ‘n gebrek aan aanspreeklikheid in die toespraak en boonop geen daadwerklike planne vir die toekoms nie. Nhlamulo Ndhlela van die MK het tydens die tweede ronde van die debat oor die staatsrede die regering se swak reaksie op misdaad en geslagsgeweld veroordeel, en ook die planne vir grondhervorming en die Nasionale Gesondheidsversekering verwerp:
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge dring aan op duidelike, betroubare reëls vir die hantering van ondernemings wat betrokke is by wangedrag. Die voorsitter, Songezo Zibi, sê verskillende stappe word in sulke gevalle gedoen, insluitend om ondernemings op ‘n swartlys te plaas. Die komitee het beraadslaag oor Eskom se finansiële state vir 2023/’24. Zibi sê in Eskom se geval is SKOOR onseker oor watter stappe om te doen, maar is bereid om die kragvoorsiener se finansies te bespreek:
# Vervaardigingsproduksie in Suid-Afrika het in Desember met 1,2-persent gedaal vergeleke met die vorige jaar. Motorvoertuie en basiese yster- en staalsektore was die grootste bydraers tot hierdie afname. Die voedsel- en drankafdeling het egter ‘n positiewe styging van 5,8-persent getoon. Nicolai Claassen van Statistieke Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het verlede jaar oor die algemeen met 0,4-persent gedaal vergeleke met 2023.
# City Power in Johannesburg se veiligheidsrisiko-bestuurspan het ses werknemers van ‘n kontrakteur by die Observatory-substasie in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde koperkabels. Woordvoerder Isaac Mangena sê dit het gevolg op ‘n terreininspeksie ná verlede week se tonnelbrand, waarin ontbloot is werkers het byna 130-kilogram kabels gesny en weggesteek, insluitend meer as elf-kilogram wat onder ‘n bus ontdek is. Hy veroordeel hierdie dade en die skade wat aan infrastruktuur berokken is:
# Tennis: Die verdedigende kampioene, Sara Errani en Andrea Vavassori, het hulle by talle ander spelers aangesluit wat die ingrypende verandering in die formaat van die gemengde dubbelspel op die Amerikaanse Ope kritiseer. Die organiseerders het aangekondig dit gaan nou oor twee dae plaasvind die week voor die hooftoernooi begin, elke stel sal uit net vier potte bestaan, en die volgende punt na 40-elk sal die pot wen. Die Italianers beskryf die besluit as ‘n erge onreg wat minagtend is teenoor ‘n hele kategorie spelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-237-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-877-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….