Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vervaardiging het verlede jaar met komma-vier-persent gekrimp in Suid-Afrika
# Die Arabiese Liga verwerp Trump se planne vir Gaza
# En sokker: Vinicius sê City-aanhangers se banier het hom geïnspireer om Madrid te help wen
# Vervaardigingsproduksie in Suid-Afrika het in Desember met 1,2-persent gedaal vergeleke met die vorige jaar. Motorvoertuie en basiese yster- en staalsektore was die grootste bydraers tot hierdie afname. Die voedsel- en drankafdeling het egter ‘n positiewe styging van 5,8-persent getoon. Nicolai Claassen van Statistieke Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het verlede jaar oor die algemeen met 0,4-persent gedaal vergeleke met 2023:
# Die Presidensiële Jeug-indiensnemingsprogram het sedert 2020 meer as 1,5-miljoen werksgeleenthede geskep. President Cyril Ramaphosa het dit ingestel om aandag te gee aan werkloosheid onder die jeug, wat tans op 45,5-persent staan. Die adjunkminister in die Presidensie, Nonceba Mhlauli, het bekendgemaak die program het in die derde kwartaal van 2024/25 meer as 53-duisend inkomstegeleenthede verseker. Altesaam 38-duisend mense is deur middel van die SA Jeug-platform bereik en tien-duisend deur die Jeug-indiensnemingsdiens.
# Die sekretaris-generaal van die Arabiese Liga, Ahmed Aboul Gheit, verwerp enige verskuiwing van Palestyne uit die Gazastrook en die Wesoewer en beskryf dit as onaanvaarbaar vir die streek. Hy sê vandag is dit Gaza se beurt en môre verskuif dit na die Wesoewer met die doel om al die geskiedkundige inwoners uit Palestina te verwyder. Aboul Gheit het reageer op die plan van die Amerikaanse president, Donald Trump, om Palestyne uit Gaza te verskuif. Dit word wyd veroordeel in die Arabiese wêreld.
# Sokker: Real Madrid se voorspeler, Vinicius Junior, sê ‘n banier van Manchester City se ondersteuners tydens gister se eersteronde- uitspeelstryd in die Kampioeneliga het hom geïnspireer om sy span te help om 3-2 te wen. Die banier het City se middelveldspeler, Rodri, met die Ballon d’Or-trofee gewys met die byskrif, “Hou tog op sanik”. Vinicius was verlede jaar Fifa se speler van die jaar en is oortuig sy aktivisme teen rassisme het verhinder dat hy die gesogte toekenning wen. Die tweederonde-kragmeting vind volgende Woensdag in Spanje plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-225-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-881-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-15-sent per vat.
# En ten slotte: Eskom het 138 beurse toegeken aan voornemende ingenieurstudente aan verskeie tersiêre instellings in die land. Die nutsmaatskappy se beursprogram is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 en ondersteun verskeie ontwikkelingsdoelstellings van die Verenigde Nasies. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê 39-persent van die begunstigdes is vroue:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….