Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom verleng die vrystelling van die registrasiefooi vir kleinskaalse ingeboude kragopwekkers tot Maart 2026
# Die hoof van AgriSA beskuldig Trump dat hy verdeeldheid in die landbougemeenskap aanblaas
# En, rugby: Die afgedankte Warren Gatland word reeds verbind met die Wallabies-pos
# Eskom het die vrystelling van registrasiefooie vir kleinskaalse ingeboude kragopwekkers tot Maart volgende jaar verleng. Dit is van toepassing op sonkraginstallasies tot 50 kilowatt in woongebiede, wat kliënte help om die uitwerking van beurtkrag te versag. Die vrystelling dek aansoek-, tariefomskakelings- en aansluitingsfooie. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê kragopwekkers wat nie aan die netwerk gekoppel is nie, is van registrasie vrygestel:
# AfriForum versoek die omgewingspraktisyn Kimopax, wat die mynbou-aansoek naby die Krugerwildtuin in Mpumalanga hanteer, om teen Maandag alle gesprekke met belanghebbende partye bekend te maak. Die burgerregte-organisasie is as ‘n belanghebbende en geraakte party geregistreer en beweer hulle is uitgesluit van sleutelkommunikasie rakende die omgewings-uitwerkingstudie. AfriForum se woordvoerder, Lambert de Klerk, waarsku oor meer omvattende regstappe om die mynbou-aansoek teen te staan indien daar nie aan die versoek voldoen word nie:
# Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotzé, het die Amerikaanse president, Donald Trump, daarvan beskuldig dat hy verdeeldheid in die landbougemeenskap aanblaas. Dit volg ná hy beweer het Afrikaners kan vervolging te wagte wees oor die Onteieningswet. Kotzé het bewerings van grondgrype en plaasmoorde afgemaak as polities gemotiveerd. Volgens MoneyWeb het hy gewaarsku Trump se standpunt kan Suid-Afrika se belastingvrye handelstoegang in gevaar stel. AgriSA is ook bekommerd oor die Onteieningswet, maar Kotzé het bevestig daar is nog op geen plase beslag gelê sonder vergoeding nie.
# Die Britse regering sê hy is besig om immigrasiereëls te verskerp wat dit byna onmoontlik sal maak vir ongedokumenteerde migrante wat op klein bote aankom om burgerskap te ontvang. Burgerskap sal volgens nuwe reëls geweier word aan migrante wat per see aankom, of agter in voertuie weggesteek is. Eerste minister Keir Starmer se Arbeidersregering verkeer tans onder druk om migrasie te verminder nadat Nigel Farage se anti-immigrasie Reform UK party ongeveer vier-miljoen stemme gekry het in die laaste algemene verkiesing, ‘n ongekende getal vir ‘n ver-regse party.
# Rugby: Warren Gatland, wat pas as hoofafrigter van Wallis afgedank is na 14 agtereenvolgende nederlae, word reeds weer met ‘n ander internasionale pos verbind. Vroeër is berig die afrigter van die Wallabies, Joe Schmidt, gaan nie sy kontrak verleng wanneer dit na die Rugbykampioenskap in Oktober verstryk nie. Gatland en die voormalige Australiese afrigter, Michael Cheika, is albei skielik beskikbaar. Cheika het onlangs bekendgemaak hy gaan nie sy kontrak met die Engelse klub Leicester verleng nie. Sy naam word ook genoem as ʼn moontlike opvolger vir Gatland by Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-175-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-879-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….