Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom sê Suid-Afrika moet dringend reageer op Trump se dreigemente
# Die hoof van AgriSA beskuldig Trump dat hy verdeeldheid in die landbougemeenskap aanblaas
# En, rugby: Die afgedankte Warren Gatland word reeds verbind met die Wallabies-pos
# ‘n Ekonoom aan die Noordwes-Universiteit, professor Raymond Parsons, sê waninligting oor die situasie in Suid-Afrika en negatiewe Amerikaanse stellings oor die land se beleid, veroorsaak ‘n kommerwekkende styging in ekonomiese onsekerheid. Hy sê om die moontlike uitwerking van eksterne skokke te versag, moet Suid-Afrika dringend reageer op die jongste dreigemente van die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie en die ekonomie so Trump-bestand moontlik maak. Parsons sê dit is dus nodig om op verskeie vlakke teen waninligting oor Suid-Afrika te veg.
Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotzé, het die Amerikaanse president, Donald Trump, intussen daarvan beskuldig dat hy verdeeldheid in die landbougemeenskap aanblaas. Dit volg ná hy beweer het Afrikaners kan vervolging te wagte wees oor die Onteieningswet. Kotzé het bewerings van grondgrype en plaasmoorde afgemaak as polities gemotiveerd. Volgens MoneyWeb het hy gewaarsku Trump se standpunt kan Suid-Afrika se belastingvrye handelstoegang in gevaar stel. AgriSA is ook bekommerd oor die Onteieningswet, maar Kotzé het bevestig daar is nog op geen plase beslag gelê sonder vergoeding nie.
# Die Vryheidsfront Plus sê hy is bekommerd oor die meer as 203-duisend organisasies sonder winsoogmerk wat in gevaar verkeer om hul deure te sluit weens die versuim om jaarverslae in te dien. Altesaam 41-duisend-787 instellings is reeds hiervan in kennis gestel en ses-duisend-221 is reeds gesluit. Die VF Plus-lid, Philip van Staden sê die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling moet hierdie organisasies bystaan sodat hulle aan die toepaslike wetgewing kan voldoen:
# Die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel sê hy is steeds besig om sy globale profiel uit te bou met ‘n sterk verteenwoordiging op volgende week se Internasionale Verdedigings-tentoonstelling en -konferensie in Abu Dhabi. Daar is sowat een-duisend-400 uitstallers van 65 lande by die geleentheid wat sowat 135-duisend besoekers lok. Denel se woordvoerder, Pam Dlamini, sê die tentoonstelling is ‘n ideale platform om hulle produkte weer bekend te stel, wat beskou word as koste-doeltreffende oplossings vir die verdedigings- en sekerheids-omgewings:
# Rugby: Warren Gatland, wat pas as hoofafrigter van Wallis afgedank is na 14 agtereenvolgende nederlae, word reeds weer met ‘n ander internasionale pos verbind. Vroeër is berig die afrigter van die Wallabies, Joe Schmidt, gaan nie sy kontrak verleng wanneer dit na die Rugbykampioenskap in Oktober verstryk nie. Gatland en die voormalige Australiese afrigter, Michael Cheika, is albei skielik beskikbaar. Cheika het onlangs bekendgemaak hy gaan nie sy kontrak met die Engelse klub Leicester verleng nie. Sy naam word ook genoem as ʼn moontlike opvolger vir Gatland by Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-50-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-887-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….