Nuus 06:00
BULLETIN 12 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen verdedig die DA se rol in die regering van nasionale eenheid
# Duduzile Zuma-Sambudla van die MK-party vra om verskoning
# En rugby: ’n Voormalige Bok is dalk Wallis se volgende hoofafrigter
# Die DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, waarsku geweldsmisdaad en die onderwys-stelsel wat misluk benadeel steeds Suid-Afrikaners, met 70 mense wat daagliks vermoor word. Steenhuisen het tydens die staatsrededebat die DA se rol in die regering van nasionale eenheid verdedig en belowe om korrupsie en ekonomiese agteruitgang te beveg. Hy doen ‘n beroep vir vinnige hervormings om werksgeleenthede ‘n hupstoot te gee, lewenskoste te verminder en landelike misdaadvoorkoming te versterk, waar plaasaanvalle ‘n ernstige bekommernis bly:
# Die leier van die EFF, Julius Malema, kritiseer president Cyril Ramaphosa se leierskap en beskuldig hom dat hy versuim om die groeiende krisisse in Suid-Afrika aan te spreek. Malema het in die debat oor die staatsrede gewag gemaak van ‘n gebrek aan ʼn ekonomiese strategie, werkskepping wat stagneer, hoë voedselpryse, vervoerkoste, geslagsgeweld, watertekorte en korrupsie. Hy beskuldig Ramaphosa van beloftes wat verbreek is, soos die versuim om slimstede en hoëspoed-treine te lewer:
# Die MK-party-parlementslid, Duduzile Zuma-Sambudla, het ‘n formele verskoning aan oudpresident Jacob Zuma, die party se leierskap en sy lede uitgereik omdat sy gevloek het in onlangse plasings op sosiale media. Zuma-Sambudla meen haar kommer oor interne aangeleenthede het haar openbare benadering oor die party-eenheid en dissipline ondermyn. Sy het belowe om in die vervolg kwessies behoorlik en op die regte manier aan te spreek. Sy het ook haar verbintenis tot die MK-party se waardes van respek, solidariteit en revolusionêre dissipline herbevestig.
# Die koalisiepartye in beheer van die Stad Tshwane, sê hulle is steeds verbind om te verseker dat die metro voortgaan op ‘n pad van volhoubare ontwikkeling, goeie bestuur en diensuitnemendheid. Die burgemeester Nasiphi Moya het Dinsdag ‘n verslag gelewer oor die suksesse van die veelparty-koalisieregering oor die afgelope 100 dae. Sy sê haar administrasie het vordering gemaak om die metro om te draai. Die koalisiepartye sê daar is tasbare verbeterings aangebring in Tshwane se finansiële herstel, dienslewering en die Hammanskraal-waterkrisis.
# Die Amerikaanse visepresident JD Vance het gewaarsku dat oormatige regulering die vinnig-groeiende kunsmatige intelligensie-bedryf sal doodmaak. Hy het Dinsdag wêreldleiers en tegniese bestuurders by die Kunsmatige Intelligensie-aksieberaad in Parys, Frankryk, toegespreek. Vance sê die VSA beoog om die leiers op die gebied van KI te bly en die Europese Unie se streng regulatoriese benadering gekritiseer. Hy sê Amerika wil hê KI moet vrygestel wees van ideologiese vooroordeel:
# Rugby: Die voormalige Springbok-losskakel, Franco Smith, is luidens berigte een van die afrigters wat Warren Gatland kan vervang as hoofafrigter van Wallis nadat hy verwyder is na 14 agtereenvolgende nederlae. Cardiff se afrigter, Matt Sherrat, sal waarneem tot aan die einde van die Sesnasies-toernooi. Ander moontlike opvolgers, is Ierland se tussentydse afrigter, Simon Easterby, en die voormalige Wallabie-afrigter, Michael Cheika. Die 52-jarige Smith het tussen 1996 en 1999 18 wedstryde vir Suid-Afrika gespeel waarna hy onder meer die Cheetahs en Italië afgerig het. Hy rig tans Glasgow Warriors af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-887-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-899-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….