Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die regering van nasionale eenheid is as die Nasionale Persklub se Nuusmaker van die Jaar vir 2024 aangewys. Die keuse-proses behels benoemings en motiverings deur klublede met die finale beslissing wat by die klub se uitvoerende komitee berus. Die waarnemende voorsitter, Antoinette Slabbert, sê die regering van nasionale eenheid se omvattende mediadekking en die gevolglike uitwerking op die samelewing, maak van hulle ‘n verdienstelike ontvanger van vanjaar se toekenning. Die nuusmakers wat die klub oor die jare heen vereer het, sluit in die ontslape voormalige president Nelson Mandela, die Springbokspan en Eskom.
# Suid-Afrika gaan die eregas wees op die 33ste Havana Internasionale Boekeskou wat van Donderdag tot die 23ste van die maand in Kuba plaasvind. Dit word beskou as die grootste kultuurfees in die hoofstad. Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur sê Suid-Afrika se deelname is onder die tema, Papers of Resistance, en fokus op die belangrikheid van skryf in verskillende vorms. ‘n Afvaardiging van skrywers, digters en letterkundige figure sal by die Suid-Afrikaanse kraampie te sien wees.
# Een van Afrika se vooraanstaande instellings, die Universiteit van Pretoria, herdenk 117 jaar in die vorming van mense en die verandering van lewens. Akademiese uitnemendheid is steeds die hoeksteen en dit word bewys deur die instelling se posisie as een van Afrika se beste universiteite met sy reputasie vir baanbrekernavorsing. Die universiteit vier dié week fees op al drie sy kampusse. Vise-kanselier, professor Francis Petersen, sê Tuks se verbintenis tot inklusiwiteit en verskeidenheid het ‘n lewenskragtige akademiese gemeenskap geskep waar verskillende perspektiewe die leer-ervaring verryk.
# Kendrick Lamar het na sy triomfantelike Super Bowl-rustydvertoning Sondag in New Orleans nuwe datums aangekondig vir sy Grand National-toer saam met SZA. Hulle hou in Julie vier vertonings in die Verenigde Koninkryk wat Hampden Park en Tottenham Hotspur se stadion in Londen insluit. Lamar en SZA het ook ʼn klomp nuwe datums ingesluit vir Duitsland, Nederland, Frankryk, Portugal, Spanje, Italië, Pole en Swede. Die toer begin op 19 April op die US Bank-stadion in Minneapolis.
# En bekendes soos die akteur Idris Elba, die komediant Katherine Ryan en die skrywer Deepak Chopra sal later vanjaar onder die eerste groot name op die eerste Europese South by Southwest in Londen wees. Dis een van die wêreld se beroemdste kultuurgeleenthede op die jaarlikse program wat konferensies met film, interaktiewe media en musiekfeeste kombineer. Die hoofaantrekkingskrag van die fees in Londen se musiekafdeling, is die Grammy-bekroonde sangeres en liedjieskrywer, Tems.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….