Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Gemengde gevegskuns is vandag eerste aan die beurt: Suid-Afrika se UFC-middelgewig-wêreldkampioen, Dricus du Plessis, neem ‘n stewige 61,5-miljoen-rand huis toe nadat hy Sean Strickland Sondag in Sydney, Australië, verslaan het. Du Plessis het die Amerikaner oortuigend geklop in hulle herontmoeting nadat hy die gordel in Januarie verlede jaar by hom afgeneem het. Die drie beoordelaars het die geveg 50-45, 50-45 en 49-46 aan Du Plessis toegeken. Strickland glimlag tog ten spyte van sy gebreekte neus, want sy prysgeld beloof 19,9-miljoen-rand.
# Krieket-nuus: ‘n Plek in Vrydag se eindstryd van die drienasies-toernooi in Pakistan is op die spel in môre se wedstryd tussen Suid-Afrika en die gasheer in Karatsji. Dit volg nadat albei lande teen Nieu-Seeland verloor het in die eerste twee kragmetings. Die Swartpette het Pakistan eers met 78 lopies verslaan en die Proteas toe met ses paaltjies om die eindstryd te haal. Die toernooi word gebruik as voorbereiding vir die Kampioenetrofee wat volgende Woensdag in Pakistan begin.
# Nieu-Seeland Rugby is besig met regstappe teen die Britse chemikalieë-reus, Ineos, en beskuldig die maatskappy dat hy sy borgskap-ooreenkoms van ses jaar verbreek. Die maatskappy, wat aan die Britse miljardêr Jim Ratcliffe behoort, het volgens berigte drie jaar te vroeg van sy winsgewende borgskap-ooreenkoms weggestap en nie sy eerste betaling vir vanjaar gemaak nie. Nieu-Seeland Rugby sê sy enigste keuse is om regstappe te doen om sy finansiële posisie te beskerm. Hy sê hy soek tans nuwe borge.
# Nou gholf: Die vyftienmalige Major-kampioen, Tiger Woods, het aan hierdie week se Genesis-uitnodigingstoernooi onttrek en sê hy verwerk nog sy ma Kultida se dood verlede week. Woods se laaste verskyning in ʼn amptelike toernooi was in Julie verlede jaar in die Britse Ope op Royal Troon waar hy die derde opeenvolgende Major nie die afsnypunt oorleef het nie. Die 49-jarige Amerikaner se landgenoot, Jake Knapp, vervang hom in die uitnodigingstoernooi. Knapp het verlede jaar sy eerste oorwinning op die PGA-toer behaal in die Mexikaanse Ope.
# Ons sluit af met tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek van Pole, is deur na die ronde van 16 op die Katarse Ope waar sy probeer om haar vierde agtereenvolgende titel in Doha op te raap. Die wêreld-nommer-twee het Maria Sakkari van Griekeland verslaan. Die tiende gekeurde Daria Kasatkina van Rusland het haar landgenoot, Polina Kudermetova, in slegs 42 minute verpletter in een van die vinnigste WTA-wedstryde ooit. Die Tsjeggiese jongeling, Linda Noskova, het die 15de gekeurde Kroaat, Donna Vekic uitgeskakel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….