Nuus 09:00
BULLETIN 11 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump sê die omstandighede in Suid-Afrika is baie gevaarlik
# Gholf: Tiger Woods onttrek aan die Genesis-uitnodigingsbyeenkoms
# En die regering van nasionale eenheid is die Nasionale Persklub se nuusmaker van die jaar
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het sy aanvalle op Suid-Afrika herhaal en sê die situasie in die land is gevaarlik. Hy het verlede Vrydag ‘n uitvoerende bevel onderteken wat hulp van die VSA aan Suid-Afrika opskort, en waarin hy sy afkeuring uitspreek oor die land se onteieningsbeleid en sy volksmoordsaak teen Amerika se bondgenoot, Israel. Trump wat beweer daar is wydverspreide grondgrype wat ingevolge die Onteieningswet plaasvind, sê die situasie is sleg vir baie mense:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sê hoewel hy die noodsaaklike rol van organisasies sonder winsbejag erken, dwing hy voldoening en aanspreeklikheid in die sektor af. Die departement het tot nou 41-duisend-787 kennisgewings van nie-voldoening aan organisasies sonder winsbejag uitgestuur. Altesaam ses-duisend-221 organisasies van dié groep is ge-deregistreer vir versuim om hulle verpligtings ingevolge die Wet op Organisasies Sonder Winsbejag na te kom. Die departement se woordvoerder, Bathembu Futshane, sê die gevolge vir organisasies wat nie voldoen aan die wetgewing nie is ernstig:
# Die DA in Tshwane sê die ANC-regering in die metro het toegelaat dat die elektrisiteitsverlies tot 300-miljoen-rand in slegs drie maande styg. Jacqui Uys van die party sê dit is in skrille kontras met wat die regering van die DA geërf het toe elektrisiteitsverliese tussen Julie en September met 162-miljoen-rand verminder is. Sy sê die metro versuim nie net om rekenings aan inwoners vir kragverbruik te stuur nie, maar die ANC-regering sit ook nie dieselfde druk op Tshwane se debiteure-boek nie:
# Gholf: Die vyftienmalige Major-kampioen, Tiger Woods, het aan hierdie week se Genesis-uitnodigingstoernooi onttrek en sê hy verwerk nog sy ma Kultida se dood verlede week. Woods se laaste verskyning by ‘n amptelike toernooi was in Julie verlede jaar in Die Ope by Royal Troon waar hy vir die derde opeenvolgende Major nie die paal gehaal het nie. Die 49-jarige Amerikaner is in die Genesis-uitnodigingstoernooi deur sy landgenoot, Jake Knapp, vervang. Knapp het sy eerste oorwinning op die PGA-toer verlede jaar in die Mexikaanse Ope behaal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-een-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-668-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-918-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-87-sent per vat.
# En, die regering van nasionale eenheid is as die Nasionale Persklub se 2024 Nuusmaker van die Jaar aangewys. Die keuse-proses behels benoemings en motiverings deur klublede met die finale beslissing wat by die klub se uitvoerende komitee berus. Die waarnemende voorsitter, Antoinette Slabbert, sê die regering van nasionale eenheid se omvattende mediadekking en die gevolglike uitwerking op die samelewing, maak van hulle ‘n verdienstelike ontvanger van vanjaar se toekenning. Die nuusmakers wat die klub oor die jare heen vereer het, sluit in die ontslape en voormalige president Nelson Mandela, die Springbokspan en Eskom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….