Nuus 07:00
BULLETIN 11 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Raymond Parsons waarsku oor die ekonomiese uitwerking van die Amerikaanse spanning
# Hamas vertraag die vrylating van Israelse gyselaars
# En krieket: Die Proteas en Pakistan speel vir ‘n plek in die Drienasies-eindstryd teen Nieu-Seeland
# ‘n Ernstige breuk in ekonomiese verhoudings met ʼn belangrike handelsvennoot soos Amerika kan indirekte gevolge vir Suid-Afrika inhou. Dit is volgens ʼn ekonoom aan die Noordwes-universiteit se Sakeskool, professor Raymond Parsons. Dit volg ná Amerika se ongekende optrede teen Suid-Afrika oor beweerde waninligting oor die Onteieningswet. Parsons sê die land moet dringend reageer op die Trump-administrasie se jongste dreigemente en die ekonomie so “Trump-bestand” as moontlik maak:
Die Amerikaanse Sakekamer in Suid-Afrika sê intussen die huidige geskil tussen dié twee lande behoort nie te keer dat die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika in gedrang kom nie. AGOA, wat aan Suid-Afrika en meer as 20 ander Afrika-lande voorkeurtoegang tot Amerika gee, verstryk in September. President Donald Trump het alle Amerikaanse hulp aan die land gestaak weens bewerings van menseregteskendings teen die wit Afrikaner-minderheidsgroep. Die kamer se president, Kuseni Dlamini, sê albei lande moet koelkop bly.
# Die GOOD-party beskuldig die Gautengse regering van wanbesteding ter waarde van meer as 600-miljoen-rand wat vir maatskaplike verligting geoormerk was en sê dit het sukkelende organisasies sonder winsbejag sowel as kwesbare inwoners sonder ondersteuning gelaat. Die party sê verkwistende uitgawes deur die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, insluitend die misbruik van fondse vir voedselbanke, skooldrag en waardigheidspakkies is in forensiese verslae ontbloot. Matthew Cook van die party beweer senior amptenare wat by die skandaal betrokke was, is steeds in hul posisies ondanks aanbevelings om hulle te vervolg:
# Die DA in die Wes-Kaap sê die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid se plan om goue kaarte uit te faseer kom vinnig nader, maar die migrasieproses is erg gebrekkig. Sassa se goue kaarte verval die einde van die maand, en begunstigdes word gewaarsku om hul kaarte met die Posbank se nuwe swart kaarte te vervang. ʼn DA woordvoerder, Wendy Kaizer-Philander, sê die vertragings, tesame met ʼn onbetroubare verifiëringstelsel vir maatskaplike bystandstoelaes, veroorsaak onnodige paniek en probleme:
# Die militante groep Hamas sê hy gaan die vrylating van nog Israelse gyselaars wat vir Saterdag beplan is, tot verdere kennisgewing uitstel. Hy beskuldig Israel dat hy die skietstilstand oortree. Hamas beweer Israel vertraag die terugkeer van ontheemde persone na noordelike Gaza, teiken hulle met bomme en geweervuur, en laat nie toe dat humanitêre hulp die gebied binnegaan nie. Tot dusver is 16 Israelse gyselaars vrygelaat. Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, het die weermag opdrag gegee om op die hoogste vlak gereed te wees vir enige moontlike gebeurlikheid in Gaza.
# Krieket: ‘n Plek in Vrydag se eindstryd van die drienasies-toernooi in Pakistan is op die spel in môre se wedstryd tussen Suid-Afrika en die gasheer in Karatsji. Dit volg nadat albei lande teen Nieu-Seeland verloor het in die eerste twee kragmetings. Die Swartpette het Pakistan eers met 78 lopies verslaan en die Proteas toe met ses paaltjies om die eindstryd te haal. Die toernooi word gebruik as voorbereiding vir die Kampioenetrofee wat volgende Woensdag in Pakistan begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-82-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-931-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….