Nuus 06:00
BULLETIN 10 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Trump het ‘n debat oor menseregte in Suid-Afrika ontketen
# TLU SA sê die ANC moet die skuld kry vir Trump se optrede
# En hokkie: Suid-Afrika se mans wen die brons by die Binnenshuise Wêreldbeker
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die Amerikaanse president Donald Trump se uitvoerende bevel, wat hulpverlening aan Suid-Afrika stop terwyl dit Afrikaner-hervestiging bevorder, lig menseregteskendings uit. Die instituut se uitvoerende regsdirekteur Gabriel Crouse sê dit wys verkeerdelik Afrikaners uit as die primêre slagoffers, hoewel die Wet op Onteiening en die rassebeleid alle Suid-Afrikaners skaad. Crouse sê hulle wil duidelikheid hê oor hoe die Afrikaner gedefinieer word en vra inklusiewe beskerming. Hy beklemtoon rasseklassifikasie raak alle burgers en moedig Amerika aan om sy benadering te verfyn om regverdigheid te verseker.
Die landbou-organisasie TLU SA sê intussen die ANC se transformasie-agenda het gelei tot die geleidelike uitsluiting van sekere groepe in die arbeidsmag en ekonomiese geleenthede. Verlede Vrydag het die Amerikaanse president Donald Trump beveel dat finansiële hulp aan Suid-Afrika gestaak word weens die land se onteieningsbeleid. Bennie van Zyl van TLU SA sê die regering het homself geplaas tussen lande wat Amerika openlik teenstaan, terwyl hy terselfdertyd verwag dat Amerikaanse belastingbetalers finansiële hulp aan Suid-Afrika sal verleen:
# Die Nasionale Mynwerkersunie het Petra Diamonds se plan om 200 werkers by hulle Cullinan en Finsch myne af te lê, ten sterkste verdoem. Die unie verwys na die verwoestende impak op werknemers, hulle families en die gemeenskap. Petra blameer die wêreldwye verswakking in die diamandmark, kleiner Chinese aanvraag en kompetisie van laboratoriumvervaardigde diamante. Die unie se hoofonderhandelaar, Masibulele Naki kritiseer die besluit en noem dit onpatrioties te midde van die land se 40-persent werkloosheidsyfer. Hy versoek die regering en leiers in die bedryf om die sektor se toekoms dringend aan te spreek.
# ActionSA het teen Vantage Goldfields uitgevaar omdat die maatskappy nie in sy onlangse verklaring die Lilymyn-tragedie aangespreek het nie. Die leier van ActionSA Herman Mashaba sê ondanks hofbevele wat geregtigheid eis vir die families van Pretty Nkambule, Yvonne Mnisi en Solomon Nyirenda, swyg die maatskappy steeds oor die uithaal van die vraghouers waarin die liggame van die slagoffers vasgekeer bly. Hy beloof regsoptrede om aanspreeklikheid en geregtigheid te verseker:
# Hokkie: Die Suid-Afrikaanse manspan het hul eerste medalje ooit gewen toe hulle België ses-vyf verslaan het in die bronsmedalje-eindstryd van die Binnenshuise Wêreldbekertoernooi in Porec, Kroasië. Mustapha Cassiem het ‘n driekuns behaal, sy broer en kaptein, Dayaan Cassiem, het twee keer doele aangeteken, en Hans Neethling het ‘n strafdoel behaal. Die Suid-Afrikaanse vrouespan het Australië drie-twee verslaan om negende te eindig. Duitsland se mans en Pole se vroue is as kampioene gekroon.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-461-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-868-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-66-sent per vat.
# En ten slotte: Die DA betreur die afsterwe van die eerste president van ‘n onafhanklike Namibië, Sam Nujoma. Hy is op 95-jarige ouderdom in ‘n hospitaal in die hoofstad Windhoek dood. Nujoma het in 1990 die lang stryd vir onafhanklikheid teen Suid-Afrika volbring, nadat hy in die 1960’s gehelp het om Namibië se bevrydingsbeweging bekend as die South West Peoples’ Organisation te stig. Ná onafhanklikheid het hy in 1990 president geword en die land gelei tot 2005. Die DA se Willie Aucamp, sê Nujoma was ’n buitengewone nasionale figuur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….