Nuus 11:00
BULLETIN 9 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gemengde Gevegskuns: Dricus lewer ‘n meesterklas met die verdediging van sy titel
# EFF vra herroeping van SA-burgerskap vir dié wat VSA-vlugtelingstatus soek kragtens Trump se uitvoerende bevel
# En Internasionale Betrekkinge gaan met Amerika praat om waninligting oor grondbeleid op te klaar
# Ons skop af met gemengde gevegskuns-nuus: Dricus du Plessis het ‘n dominante vertoning gelewer toe hy Sean Strickland in vyf kliniese rondtes vanoggend in Sydney verslaan het om sy UFC-middelgewigtitel te behou. Die Suid-Afrikaner het met die klanke van Nkosi sikelel’ iAfrika na die kryt gestap, vir wat van begin tot einde maar ‘n eensydige gedoente was. Du Plessis het die Amerikaner se neus in die vierde rondte gebreek en hom vir die res van die geveg met ‘n bebloede gesig gelaat. Die kampioen het nou nege agtereenvolgende gevegte in die middelgewig-afdeling gewen.
# In ander nuus vra die EFF die herroeping van die burgerskap van Suid-Afrikaners wat om vlugtelingstatus aansoek doen ingevolge die Amerikaanse president Donald Trump se uitvoerende bevel. Die party kritiseer die opskort van hulpverlening terwyl vlugtelinghervestiging aan Afrikaners gebied word. Die EFF se nasionale woordvoerder Sinawo Thambo noem die stap irrasioneel in die lig van Trump se onlangse opskorting van vlugtelingtoelatings. Hy beweer die bevel is straf vir Suid-Afrika se standpunt teen Israel:
In nog ‘n verwikkeling sê die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking samesprekings word beplan met die Amerikaanse regering om waninligting op te klaar oor die Wet op Onteiening. Die departement sê Trump se uitvoerende bevel verontagsaam Suid-Afrika se koloniale en apartheid-geskiedenis. Die direkteur-generaal, Zane Dangor, het Suid-Afrika se toewyding tot diplomasie herbevestig:
Intussen veroordeel Cope Trump se verdelende uitvoerende bevel en noem dit rassisties en irrasioneel. Die party moedig die Suid-Afrikaanse regering aan om onwrikbaar te bly met die najaag van sowereiniteit en internasionale geregtigheid. Cope se waarnemende nasionale voorsitter Pake Dikgetsi beklemtoon nasionale veerkragtigheid, die verwerping van vrees en chaos, en steun vir president Cyril Ramaphosa se standpunt teen afknouery:
# En ten slotte, ‘n paartjie van Norfolk, Engeland is met hulle hond herenig nadat sy sewe jaar gelede uit hulle tuin gesteel is. Rita en Philip Potter sê dit was soos ‘n “droom wat waar geword het” om Daisy, hulle Labrador te sien nadat die Britse Dierebeskermingsvereniging haar mens-familie opgespoor het deur haar mikroskyfie. Dit blyk die 13-jaar-oue Daisy is vir onwettige telery gebruik en sy sukkel met verskeie gesondheidsprobleme. Die Potters sê egter hulle sal seker maak dat sy vir die res van haar lewe die liefde en aandag ontvang wat sy verdien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….