Nuus 09:00
BULLETIN 9 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Sakekamer is vol vertroue Suid-Afrika sal te midde van uitdagings die G20-spitsberaad aanbied
# Mashaba kap Trump se uitvoerende bevel oor Suid-Afrika en noem dit ‘n oorreaksie
# En Namibië se stigterspresident is in Windhoek oorlede
# Die Suid-Afrikaanse Sakekamer in Amerika is seker Suid-Afrika sal die G20-spitsberaad suksesvol aanbied, ondanks geopolitieke spanning en binnelandse uitdagings. Die doel is om globale billikheid te bevorder, kritieke minerale in te span om groei aan te moedig en internasionale vennootskappe te versterk. Die president van die Kamer, Niel Diamond, vra opbouende dialoog tussen Amerika en Suid-Afrika:
Diamond voeg by die afwesigheid van die VSA by die G20 is ‘n kans vir Suid-Afrika om sy geopolitieke toepaslikheid in Afrika te bewys. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake Marco Rubio het aangekondig hy sal nie die spitsberaad bywoon nie, oor verskille rondom die Wet op Onteiening. Diamond het aan eNCA gesê sy afwesigheid is ‘n geleentheid vir Suid-Afrika om klem te lê op die belangrikheid van multilaterale diplomasie:
# Die leier van ActionSA Herman Mashaba kritiseer die Amerikaanse president Donald Trump se uitvoerende bevel oor Suid-Afrika. Hy sê Trump het geen mag om Suid-Afrika se beleid voor te skryf of namens Suid-Afrikaners te onderhandel nie. Die bevel verwys die land se grondonteieningsbeleid en beweerde menseregtekwessies. Mashaba bevraagteken die akkuraatheid van Trump se aansprake en vermoed dis op waninligting gebaseer. Mashaba voeg by dié wat voel daar word teen hulle gediskrimineer kan Trump se hervestigingsaanbod oorweeg, maar beklemtoon die land se sowereiniteit in die hantering van sy interne uitdagings.
# Krieket: ‘n Uitstekende vertoning deur MI Cape Town het hulle tot ‘n oorwinning in die SA20-reeks gelei, toe hulle die tweemalige kampioene, Sunrisers Eastern Cape verhoed het om die trofee vir ‘n derde keer in te palm. MI Cape Town het op die Wanderers gewys hoekom hulle in die derde seisoen van kompetisie die dominante span was toe hulle ‘n verpletterende 76-lopie oorwinning behaal het om slegs die tweede span te word om die gesogte trofee te verower. Die Kaapstadse span het 181 lopies vir agt paaltjies aangeteken. Hulle boulers het die kolfvertoning opgevolg met ‘n kragtoer om die Sunrisers vir slegs 105 lopies uit te boul.
# En ten slotte: Namibië se stigterspresident, Sam Nujoma, is in ‘n hospitaal in Windhoek oorlede. Die aankondiging is gedoen deur president Nangolo Mbumba. Nujoma was 95 en het as die leier van Swapo Namibië se bevrydingstryd tussen 1960 en 1989 gelei, en in 1990 die land se eerste president geword. Hy het tot 2005 as staatshoof gedien. Nujoma het as kind vee opgepas in die noorde van die land en in sy latere lewe uitgestyg as die leier en sleutelargitek van die land se onafhanklikheidstryd. Nujoma word oorleef deur sy 91-jarige vrou, Kovambo.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….