Nuus 08:00
BULLETIN 8 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AgriSA bepleit kalmte oor die Onteieningswet
# Twee polisievroue kry borgtog na die beweerde aanranding van ‘n vrou in Heidedal
# En gemengde gevegskuns: Dricus en Strickland beloof ‘n epiese kragmeting in Sydney
# AgriSA waarsku teen waninligting rakende die Onteieningswet, en verduidelik daar was nog geen beslagleggings of onteiening sonder vergoeding nie. Die organisasie gee die versekering privaat eiendomsreg word steeds in die Grondwet beskerm. Hulle versoek die regering om grond in staatsbesit vir opkomende boere vry te stel om groei in landbou te bevorder. Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotzé, sê ondanks politieke onsekerheid bly die landbousektor gefokus op groei en boere is daartoe verbind om voedsel te vervaardig en die ekonomie te ondersteun.
# Die GOOD-party het die appèlbeslissing verwelkom wat leerdervervoer vir die Laerskole Morrisdale en Ceres in die Witzenberg-munisipale gebied herinstel. Leerders moes vroeër vyf kilometer per dag stap omdat hulle huise 200 meter te na aan die skole is om in aanmerking te kom vir gratis vervoer. Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, het die onregverdigheid erken. Brett Herron van GOOD beskryf dit as ‘n oorwinning vir regverdigheid, maar veroordeel die aanvanklike besluit wat jong kinders se veiligheid bedreig het:
# Twee polisievroue van die Heidedal-polisiestasie in die Vrystaat wat aangekla word van aanranding, is elk borgtog van ‘n duisend-rand toegestaan in die Bloemfonteinse Landdroshof. Mamorena Shuping en Lucia Marumo het Stephanie Booysen na bewering in die polisiestasie aangerand toe sy hulp gesoek het oor die skending van ‘n beskermingsbevel. Lizzy Suping van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat sê Booysen het glo beserings opgedoen:
# Nege-en-sewentig lande sê Donald Trump se besluit om sanksies in te stel teen die Internasionale Strafhof sal die internasionale oppergesag van die reg ondermyn. Die gesamentlike verklaring is uitgereik nadat die Amerikaanse president ‘n uitvoerende bevel onderteken het wat finansiële sanksies en visumbeperkings instel teen personeel van die hof en hulle familielede, omdat die hof na bewering die VSA en Israel onbehoorlik geteiken het. Frankryk, Duitsland en Brittanje is onder dié wat hul voortgesette en onwrikbare steun herbevestig het vir die onafhanklikheid, onpartydigheid en integriteit van die Strafhof, terwyl Australië, die Tsjeggiese Republiek, Hongarye en Italië afwesig was.
# En gemengde gevegskuns: Suid Afrika se vegter Dricus du Plessis sien daarna uit om weer Sean Strickland se tjank af te trap. Du Plessis verdedig sy UFC-middelgewig wêreldtitel in ‘n herontmoeting met die Amerikaner Sondag omstreeks vyf-uur die oggend, Suid-Afrikaanse tyd, in Sydney. Du Plessis is vasberade om te bewys sy oorwinning teen Strickland in Januarie verlede jaar was nie ‘n vloekskoot nie. Beide Du Plessis en die voormalige titelhouer Strickland het op Vrydagoggend se nuuskonferensie die skaal op 185-pond te staan gebring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….