Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê Starlink kan ‘n omwenteling teweegbring in landelike veiligheid, gesondheidsorg en onderwys
# Sokker: Fifa skors die Republiek van Kongo en Pakistan
# En, Ladysmith Black Mambazo onderneem ‘n nasionale toer om 65 jaar in die musiekbedryf te vier
# AfriForum sê Elon Musk se internasionale telekommunikasieverskaffer, Starlink, kan veiligheid, gesondheidsorg en onderwys in landelike gebiede aansienlik verbeter. Die organisasie het op die openbare verhore van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid aangevoer Starlink sal help met misdaadvoorkoming, vinniger noodreaksie en telemedisyne in afgeleë gebiede. Woordvoerder Ernst van Zyl het OKOSA versoek om Starlink se Suid-Afrikaanse lisensie goed te keur en rassekriteria te onttrek wat sy toegang tot landelike gemeenskappe verhinder:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die voormalige Gautengse LUR vir Gesondheid, Brian Hlongwa se korrupsieverhoor uitgestel tot April 2026. Die vertraging is te wyte aan hangende aansoeke om sekere kwessies binne die saak van mekaar te skei en die uitlewering van ‘n beskuldigde, Richard John Payne, van die Verenigde Koninkryk. Hlongwa en sy medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van onreëlmatige tenders, bedrieglike betalings en die misbruik van meer as 347-miljoen-rand in openbare fondse tussen 2006 en 2010. Ander bewerings sluit in omkopery en die misbruik van departementele begrotings vir persoonlike gewin.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die regering se bewerings dat meer as tien-miljard-rand van staatskapingsake teruggekry is, is misleidend omdat dit slegs ‘n klein gedeelte is van die geraamde 500-miljard-rand wat verlore gegaan het weens korrupsie. Die organisasie kritiseer die stadige vordering met die vervolging van die verantwoordelikes en die versuim om meer beskerming aan verklikkers te bied. Stefanie Fick van OUTA sê sonder daadwerklike optrede sal korrupsie aanhou floreer en belastingbetalers sal die las dra:
# Sokker: Fifa het die sokkerverenigings van die Republiek van Kongo en Pakistan geskors en albei uitgesluit van internasionale kompetisies. Kongo is geskors weens derdepartye se inmenging in sy sake. Die besluit is in oorleg met die Konfederasie van Afrika-sokker geneem. Die Pakistanse sokkerfederasie is geskors weens sy versuim om ‘n hersiene grondwet te aanvaar wat regverdige en demokratiese verkiesings sou verseker. Fifa het Pakistan ook in 2017 en 2021 geskors nadat derdepartye ingemeng het. Sy laaste verbod is in Junie 2022 opgehef.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-797-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-865-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekroonde groep Ladysmith Black Mambazo skop in Mei ‘n nasionale toer af, met optredes in Durban, Kaapstad en Johannesburg. Die beroemde Suid-Afrikaanse vokale groep toer tans deur Amerika en Kanada om 65 jaar in die musiekbedryf te vier. Die groep beplan ook om op te tree in Nigerië, Ghana en Kenia. ‘n Lid van Ladysmith Black Mambazo, Sibongiseni Tshabalala, sê die toer is ‘n viering van die groep se ryk musikale erfenis en voortdurende nalatenskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….