Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die bekroonde groep Ladysmith Black Mambazo skop in Mei ‘n nasionale toer af met optredes in Durban, Kaapstad en Johannesburg. Die beroemde Suid-Afrikaanse vokale groep toer tans deur Amerika en Kanada om 65 jaar in die musiekbedryf te vier. Die groep beplan ook om op te tree in Nigerië, Ghana en Kenia. ‘n Lid van Ladysmith Black Mambazo, Sibongiseni Tshabalala, sê die toer is ‘n viering van die groep se ryk musikale erfenis en voortdurende nalatenskap.
# Die voormalige student van die Universiteit van Johannesburg en nuut-gekroonde Mev Wêreld, Tshego Gaelae, sê sy bly toegespits op haar kerndoelwit van voorspraak in onderwys as stigter van die organisasie sonder winsbejag, We Are Our Children’s Keeper. Gaelae sê die organisasie is verbind tot die verskaffing van skoolskoene en skooldrag vir minderbevoorregte kinders. Die universiteit sê haar toewyding tot die opheffing van gemeenskappe weerspieël die instelling se waardes, uitwerking, hervorming en leierskap.
# ‘n Student aan die Nelson Mandela Universiteit, Ethan Tilney en twee van sy vriende, Christopher Blignaut van die Universiteit van Kaapstad en die Wits-student Talha Niazi, het die 2024 Tata Consultancy Services Sustainathon Challenge gewen. Dis ʼn wêreldwye kompetisie wat tegnologie gebruik om probleme in die regte wêreld op te los. Meer as 170 spanne van reg oor die wêreld het deelgeneem. Die drie vriende wat hulself Nexura noem, se eerste prys sluit in 35-duisend-rand kontant, ʼn internskap van drie maande en ʼn opleidingprogram by Tata in Indië.
# Die kletsrymer met 22 Grammy-toekennings agter sy naam, Kendrick Lamar, sê hy gaan sy Los Angeles hip-hop-ritme in New Orleans inklits, terwyl sy storievertel-kern nie sal agterbly tydens sy optrede by Sondag se Super Bowl-rustydvermaak nie. Die 37-jarige sal geskiedenis maak as die eerste enkel hip-hop-kunstenaar wat die rustydvertoning aanvoer. Lamar het aan Apple Music gesê die geleentheid om hip-hop te verteenwoordig op ‘n globale verhoog soos die Super Bowl is waarvoor hy gewerk het:
# En ten slotte: Australiese wetenskaplikes het die wêreld se eerste kangaroe-embrio deur in vitro-bevrugting geskep in ‘n deurbraak wat volgens hulle kan bydra om ander spesies van uitwissing te red. Navorsers het met selle van die oostelike grys kangaroe ‘n enkele spermsel suksesvol in ‘n eiersel ingespuit, maar meen ‘n lewende geboorte sal meer werk vereis. Die prestasie verskaf belangrike insigte oor die aanteel van buideldiere en kan bydra om die genetiese verskeidenheid van bedreigde spesies te verbeter. Australië huisves die grootste verskeidenheid buideldiere, maar het ook die hoogste koers van soogdiere wat uitsterf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….