Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die liggame van Suid-Afrikaanse soldate in die DRK word vandag huis toe gebring
# Trump word gedagvaar oor die sluiting van ‘n buitelandse hulpagentskap
# En rugby: Warren Gatland ontken dat die kragmeting met Italië hulle belangrikste wedstryd in 20 jaar is
# Die oorskot van 14 Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-soldate wat gesterf het in gevegte met M23-rebelle in die Demokratiese Republiek die Kongo, word vandag gerepatrieer. Dit volg ná verskeie vertragings te midde van hangende administratiewe prosesse met die Verenigde Nasies. SABC News het bevestig Suid-Afrika het die nodige administratiewe vereistes nagekom en die repatriasie is tans aan die gang. Hulle sal deur Rwanda en Uganda beweeg en daarna na Suid-Afrika vlieg. Die VN berig altesaam twee-duisend liggame was in Goma en 900 in hospitale.
# Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, het weer bevestig hoe belangrik die verbetering van die spooragentskap PRASA is. Hlengwa het tydens ‘n toespraak in Kaapstad die belangrikheid van spoordeurgange vir goedere en passasiersvervoer beklemtoon om opeenhoping op paaie te verlig en sterftes te verminder. Hy hoop die komende begrotingstoespraak sal aandag gee aan PRASA se uitdagings en sy herlewingspogings ondersteun:
# Die uitvoerende hoof van ArcelorMittal Suid-Afrika, Kobus Verster, ontken daar is enige gesprekke oor ‘n reddingsboei van een-miljard-rand, maar bevestig die sluiting van die langstaal-aanlegte word met ʼn maand uitgestel om die regering te betrek. Volgens Verster probeer hulle daarmee drie-duisend-500 werksgeleenthede red en bedrywighede in Newcastle en Vereeniging voortsit, wat noodsaaklik is vir sektore soos spoor, landbou en mynbou. Hy kritiseer die trae optrede van die regering terwyl die maatskappy jaarliks ʼn verlies van 5,1-miljard-rand toon:
# Die grootste Amerikaanse vakbond van regeringswerkers en ‘n vereniging van werkers in buitelandse diens dagvaar die Trump-administrasie om sy sluiting van die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling te staak. Trump het op die dag van sy inhuldiging alle Amerikaanse buitelandse hulp opgeskort en bronne beweer teenoor Reuters sy administrasie gaan net minder as 300 USAID-werknemers uit meer as tienduisend behou. Die hoof van USAID, John Atwood, sê die grootskaalse afdanking van personeel sal vir alle praktiese doeleindes ‘n agentskap nekomdraai wat gehelp het om miljoene lewens regoor die wêreld te red.
# Rugby: Wallis se afrigter, Warren Gatland, hou vol die gewese losskakel Dan Biggar is verkeerd om môre se Sesnasieswedstryd teen Italië te bestempel as hulle belangrikste wedstryd in 20 jaar. Walles het sy laaste 13 toetse verloor, wat sy swakste vertoning ooit is. Die kragmeting met die Azzurri bied Wallis waarskynlik sy beste kans om die agteruitgang te stuit. Biggar, wat nou ‘n televisie-ontleder is, het die opmerking gemaak na Wallis se vernederende nederlaag van 43-0 teen Frankryk in Parys verlede week.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-325-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-866-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….