Nuus 07:00
BULLETIN 7 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika is verbind tot ‘n oplossing in die DRK
# Gholf: Die Italianer Filippo Celli loop voor in die Kaapstad Ope
# En die warmste Januarie op rekord is ’n skok vir wetenskaplikes
# President Cyril Ramaphosa sê die teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse vredesmagte in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo, getuig van ‘n voortgesette verbintenis tot die vreedsame oplossing van een van die wêreld se hardnekkigste konflikte. Veertien soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is dood in gevegte met Rwandees-gesteunde M23-rebelle in die DRK. Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede gesê alle partye moet die huidige diplomatieke pogings steun om ʼn vreedsame oplossing te vind:
Ramaphosa sê ook befondsing vir Suid-Afrikaanse munisipaliteite, waarvan baie op die rand van totale ineenstorting is, sal hersien word. Suid-Afrika se 257 munisipaliteite het saam 1,35-miljard-rand aan konsultante bestee om hul finansiële state op te stel, maar slegs 34 het ʼn skoon oudit ontvang. Ramaphosa sê baie van die munisipaliteite se uitdagings is weens die stelsel vir plaaslike regering se ontwerp:
En laastens sê Ramaphosa die regering sal vanjaar voortgaan met voorbereidingswerk om Nasionale Gesondheidsversekering in te stel. Hy sê NGV sal gehalte-gesondheidsorg vir almal beteken. Ramaphosa sê die eerste fase is deel van ʼn ministeriële raadgewende komitee se voorbereidingswerk oor NGV om die nodige tegnologieë en gesondheidsorgvoordele vir die volle instelling van NGV te bepaal:
# AfriForum veroordeel die tragiese moord op ‘n pa en seun by die Arlington-stortingsterrein in Gqeberha. AfriForum sê dit ontbloot ‘n ernstige gebrek aan sekerheid, swak bestuur en ‘n tekort aan veiligheidsmaatreëls by munisipale stortingsterreine. Afriforum eis aanspreeklikheid deur munisipale owerhede en beplan ‘n ontmoeting met nasionale amptenare om die krisis te bespreek. Die organisasie waarsku die ondoeltreffende bestuur van ‘n stortingsterrein stel gemeenskappe in gevaar en wakker omgewingsbesoedeling aan.
# Gholf: Die Italianer Filippo Celli het ʼn aanvangsronde van ses-onder-baansyfer 66 behaal om met een hou voor te loop by die Kaapstad Ope by die Royal Cape-gholfklub. Die Suid-Afrikaner Malcolm Mitchell en Borja Virto van Spanje is sy naaste teenstanders. Intussen is die Suid-Afrikaner Daniel van Tonder, wenner van die laaste twee Sonskyntoer-toernooie en wat hierdie week ʼn driekuns wil behaal, net drie houe agter die voorloper. Celli sê hy is tevrede met sy spel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-655-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-866-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Nuwe data toon verlede maand was die warmste Januarie op rekord. Syfers deur die Europese Copernicus-klimaatsdiens toon gemiddelde temperature regoor die wêreld was in Januarie 1,75-grade Celsius warmer as voor kweekhuisgasvrystellings in die nywerheidsrewolusie sowat 150 jaar gelede aansienlik begin toeneem het. Dit is 0,1-graad Celsius bo die rekord wat verlede Januarie opgestel is. ‘n Klimaatswetenskaplike aan die Imperial-kollege in Londen, Friederike Otto, waarsku die veldbrande by Los Angeles is ‘n skerp herinnering dat die wêreld reeds ‘n ongelooflike gevaarlike vlak van verwarming bereik het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….