Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mineraleraad sê Suid-Afrika moet mynbougoedkeurings bespoedig om wêreldwyd mededingend te bly
# ActionSA beskuldig die regering van geheime onderhandelings oor die Nasionale Gesondheidsversekering
# En, rugby: Australië soek weer ‘n nuwe afrigter
# Die Mineraleraad Suid-Afrika versoek die regering om goedkeuring vir mynbou te bespoedig om te verseker die bedryf bly mededingend in die globale mynbousektor. Volgens die raad belemmer uitgerekte prosesse met goedkeuring groei en belegging. Die uitvoerende hoof van die raad, Mzila Mthenjane, vra beter samewerking tussen die regering, die sakewêreld en arbeid om hindernisse uit die weg te ruim en ’n meer sakevriendelike omgewing te skep. Die raad werk saam met die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne om die agterstand van aansoeke uit die weg te ruim en regulasies te verbeter.
# ActionSA het die regering van nasionale eenheid verdoem vir wat hy geheime onderhandelings noem oor die Wet op die Nasionale Gesondheidsversekering. Die party beweer dat die regering die omstrede wetgewing probeer deurdruk sonder voldoende raadpleging en deursigtigheid. Hulle beweer dat die regering kern-belanghebbendes, insluitende professionele gesondheidsorgkenners en opposisiepartye, ignoreer het. Kgosi Letlape van ActionSA voer aan dat die huidige wet foutief en onuitvoerbaar is en dat die regering nie aandag gee aan openbare gesondheidsake nie:
# Die direkteur van Amnestie Internasionaal Suid-Afrika, Shenilla Mohamed, versoek die land om Amerikaanse invloed te weerstaan ná president Donald Trump se omstrede uitlatings. Sy kritiseer ook Trump se optrede om mense uit Gaza te verwyder en noem dit menseregteskendings. Sy het teenoor Newzroom Afrika beklemtoon uiteenlopendheid en regverdigheid is kenmerkend van Suid-Afrika se demokrasie. Mohamed vra die vermindering van afhanklikheid van Amerika ondanks moontlike finansiële gevolge:
# Rugby: Die hoofafrigter van die Wallabies, Joe Schmidt, tree na die Rugbykampioenskap in Oktober vanjaar uit. Australië het aangekondig hulle begin onmiddellik soek na ‘n opvolger. Die oorspronklike kontrak met die 59-jarige Nieu-Seelander sou vroeg in Augustus na die toer van die Britse en Ierse Leeus verstryk. Die Wallabies soek nou na hulle vyfde afrigter in ses jaar na die vertrek van Michael Cheika, Dave Rennie, Eddie Jones en Schmidt. Hierdie een moet hulle tot by 2027 se Wêreldbekertoernooi neem, wat Australië aanbied.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-295-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-858-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa gaan aan die Presidensiële Gholf-uitdaagtoernooi op die Atlantic Beach-gholflandgoed in Kaapstad deelneem. Die toernooi wat na die staatsrede sal plaasvind, word georganiseer deur die ministerie van die Staatsdiens en Administrasie, en fondse word vir liefdadigheid ingesamel. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die inkomste uit die geleentheid, wat deur die Cyril Ramaphosa-stigting bestuur word, sal onderwys- en vaardigheidsontwikkelingsprogramme landwyd ondersteun:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….