Nuus 15:00
BULLETIN 6 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlementêre portefeuljekomitee oor Landbou eis optrede oor gevaarlike plaagdoders
# Die DA gaan ‘n klagte indien oor beweerde sensuur in die komitee vir Internasionale Betrekkinge
# En die veelsydige Australiër Marcus Stoinis tree uit internasionale eendagkrieket
# Die Parlementêre portefeuljekomitee oor Landbou eis dringende optrede om hoogs gevaarlike plaagdoders te verbied. Voorsitter Dina Pule het na aanleiding van berigte oor besmette voedsel en sterftes bevraagteken waarom plaagdoders soos Terbufos steeds gebruik word ondanks ‘n internasionale verbod. Minister John Steenhuisen het wel teen gevare met voedselsekerheid gewaarsku, maar die komitee is nie in die eerste plek begaan oor ekonomiese uitwerking nie en sê openbare veiligheid kry voorkeur. Pule bevestig besprekings oor die kwessie sal voortgaan.
# Die DA is van plan om ‘n klagte oor beweerde sensuur in die Parlementêre portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking in te dien. Die party beweer die komitee se voorsitter, Supra Mahumapelo, het sy lede by herhaling verhinder om sy persoonlike opmerkings oor Suid-Afrika se buitelandse beleid tydens ‘n bespreking oor die G20 te betwis. DA-woordvoerder Ryan Smith voer aan komiteevergaderings moet oop debat oor buitelandse beleidskwessies toelaat, veral wanneer dit by menseregte kom:
# Advokaat Dali Mpofu het die staatsaanklaer, Billy Downer, daarvan beskuldig dat hy bewus was van lekkasies vanuit die Nasionale Vervolgingsgesag se geledere, maar het versuim om op te tree. Oudpresident Jacob Zuma se wapentransaksie-korrupsiesaak is vandag terug in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, waar sy regspan appelleer teen regter Nkosinathi Chili se weiering om Downer te verwyder. Mpofu voer aan Zuma se getuienis in die verhoor verkeer in gevaar om ondermyn te word:
# Die Japannese premier, Shigeru Ishiba, vertrek vandag na Amerika om met president Donald Trump te vergader, sy tweede beraad met ‘n buitelandse leier sedert sy terugkeer na die Withuis. Japan is een van Amerika se die nouste bondgenote in Asië en ongeveer 54-duisend Amerikaanse militêre personeel is in die land gestasioneer. Ishiba sal gemoedsrus wil hê oor die belangrikheid van die alliansie tussen die twee lande omdat Trump se agenda van “Amerika Eerste” moontlik kan inbreuk maak op hulle handels- en verdedigingsbande.
# Krieket: Marcus Stoinis, wat vir Durban’s Super Giants in the SA20 gespeel het, het sy onmiddelike uittrede uit eendag-internasionale krieket aangekondig. Australië moet nou die veelsydige speler in sy span vir die Kampioenetrofee vervang. Die aankondiging is nog ‘n terugslag vir die eendag-wêreldkampioen voor die toernooi die 19de begin. Stoinis het 74 eendagwedstryde vir Australië gespeel en was deel van die span wat die Wêreldbeker in 2023 verower het. Hy sê hy wil hom voortaan op T20s toespits.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-621-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-860-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….