Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Dali Mpofu voer aan Jacob Zuma se getuienis loop gevaar om ondermyn te word
# Nog aardbewings tref die Griekse toeriste-eiland Santorini
# En Amerikaanse voetbal: Donald Trump word die eerste sittende Amerikaanse president om die Super Bowl by te woon
# Advokaat Dali Mpofu het die staatsaanklaer, Billy Downer, daarvan beskuldig dat hy bewus was van lekkasies vanuit die Nasionale Vervolgingsgesag se geledere, maar versuim het om op te tree. Oudpresident Jacob Zuma se wapentransaksie-korrupsiesaak is vandag terug in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, waar sy regspan appelleer teen regter Nkosinathi Chili se weiering om Downer te verwyder. Mpofu voer aan Zuma se getuienis in die verhoor loop gevaar om ondermyn te word:
# Die Stad Kaapstad herinner die publiek daaraan om sover moontlik hul reis-reëlings aan te pas om die uitwerking van die verhoogde verkeersvolumes weens vanaand se staatsrede te versag. Sekere strate is reeds gesluit, en verdere sluitings volg later vandag. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, vra padgebruikers om indien moontlik reise na die sakekern en omliggende gebiede te vermy:
# Die Pensioenraad van die Anglikaanse Kerk vra beleggers om vredespogings in Goma in die Demokratiese Republiek die Kongo te steun. Die raad moedig beleggers wêreldwyd aan om die uitwerking van die voortslepende konflik in die streek in ag te neem te midde van aansienlike lewensverlies terwyl die humanitêre krisis daagliks vererger. Adam Matthews van die raad beklemtoon mynbou en natuurlike hulpbronne wakker die konflik aan, en vra verantwoordelikheid van beleggers sodat verdere skade voorkom en vrede en bestendigheid herstel kan word:
# Nog ‘n klomp aardbewings het die Griekse toeriste-eiland Santorini getref. Die aardbewings vorm deel van ‘n ongekende seismiese golf wat wetenskaplikes verstom en gelei het tot die massa-uittog van inwoners en besoekers. Sewe agtereenvolgende skuddings met ‘n meting van meer as 4 in omvang is vroegoggend aangeteken. Dit volg nadat ‘n aardbewing van 5,2, die sterkste sedert die naweek, gisteraand aangeteken is. Kenners kon tot dusver nie ‘n presiese skatting gee oor wanneer die seismiese bedrywighede sal eindig nie, maar beklemtoon dit is uiters ongewoon.
# Amerikaanse voetbal: Donald Trump word Sondag die eerste sittende Amerikaanse president wat die Super Bowl sal bywoon. Die eindstryd van die ligakampioenskap vind plaas tussen Kansas City Chiefs en die Philadelphia Eagles op die Caesars Superdome in New Orleans. Veertien mense is op Nuwejaarsdag in ‘n terreuraanval in Bourbon Street dood en die Geheime Diens sê sekerheidsmaatreëls is as gevolg van Trump se teenwoordigheid verder opgeskerp. Die Super Bowl word beskryf as die grootste sekerheidsgeleentheid in Amerika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-843-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-857-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….