Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrikaanse banke het teruggekap oor toegang tot krediet vir swart Suid-Afrikaners en rekeningsluitings nadat die aangeleentheid die week in die Parlement gedraai het. Die besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, Bongiwe Kunene het ‘n gedetailleerde verslag oor die vordering van transformasie die sektor vrygestel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig getuienis is in die Hooggeregshof in Kaapstad aangebied wat daarop dui dat die vuurwapens van die vermoorde boer van Louiesenhof buite Stellenbosch, Stefan Smit in ‘n kluis in een van die verdagtes, Derek Sait se huis gevind is.
En tweedens skryf die blad president Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya sê hulle hoop die president en president Donald Trump sal ‘n potjie gholf kan speel wanneer hy op besoek aan Suid-Afrika is.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf Ramaphosa het onder skoot gekom omdat hy na bewering protokol verbreek het deur die Amerikaanse miljardêr Elon Musk te bel om sy oningeligte twiets oor die Onteieningswet te bespreek. Die stap is gekritiseer deur opposisiepartye en ontleders, wat sê dit ondermyn die land se soewereiniteit en diplomatieke protokol.
# Sowetan:
Berig die familielede van sommige van die 14 SANW-lede wat in die DRK gesterf het, sê die weermag het hulle nog glad nie ingelig oor die terugbesorging van die liggame nie.
# En The Citizen:
Lei met: “WHAT CYRIL MUST DO”. Die koerant het met verskillende kenners en organisasies gepraat oor die belangrikste aksiepunte waaraan die president vanaand tydens sy Staatsrede aandag moet skenk.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig volgens Solidariteit is een van die vernaamste struikelblokke uit die weg geruim, naamlik die voortbestaan van mediese fondse onder Nasionale Gesondheidsversekering.
En tweedens skryf die koerant ‘n vrou het groot geskrik toe sy op besoek aan die Kruger-wildtuin agtergekom het twee bruin ringe in ‘n toilet is inderwaarheid ‘n Mosambiekse spoegkobra.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig tienduisende teleurgestelde voornemende studente is van drie groot Oos-Kaapse universiteite weggewys omdat daar nie plek is vir hulle nie.
En tweedens skryf die koerant as deel van sy uitbreidingsplanne, sal die Volkswagen Group Africa produksie by sy Kariega-aanleg vir ‘n maand in 2025 staak sodat hy aan toekomsplanne kan werk.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die gesprek tussen president Ramaphosa en Elon Musk oor die VSA se voorgenome opskorting van fondse aan Suid-Afrika.
En berig die 52ste aQuelle Midmar-myl, wat van vandag af plaasvind is opnuut daarop gerig om miljoene rand vir liefdadigheid in te samel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese Beleggingsbevordering en -Ontwikkelingsraad het geweier om sy werwingsprosesse bekend te maak ná bewerings dat sy uitvoerende hoof, Nangula Uaandj die direksie met ’n ystervuis regeer en haar vriende aanstel.
Dan skryf die koerant die minister van Landbou het na bewering die regter wat die Rooilyn-saak aanhoor, van die betaling van grondbelasting op twee plase gevrywaar kort voordat die verhoor begin het.
En laastens is daar nuus oor die gemeenskap wat ingespring het om die Owela-museum te restoureer.