Nuus 07:00
BULLETIN 6 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement eis aanspreeklikheid voor die Staatsrede
# Die Bankvereniging van Suid-Afrika dring aan op ‘n hersiening van die finansiële sektorhandves
# En gholf: Daar wag sterk kompetisie in die Kaapstad Ope
# Die African Transformation Movement het president Cyril Ramaphosa gevra om in sy Staatsrede aandag te gee aan Suid-Afrika se grootste krisisse. Die party verwys na die stygende moordsyfer, kommer oor mensehandel, ekonomiese swaarkry en verbrokkelende infrastruktuur. ATM eis deursigtigheid, toerekenbaarheid en uitvoerbare oplossings. Woordvoerder Zama Ntshona vra beslissende ingryping om veiligheid, waardigheid en ekonomiese bestendigheid te herstel:
‘n Ekonoom van die Stellenbosch Bestuurskool, André Roux, hoop intussen die Staatsrede sal die begin wees van betekenisvolle ekonomiese en maatskaplike hervormings wat ‘n blywende nalatenskap sal vestig. Roux versoek Ramaphosa om verder te gaan as politieke beloftes en te fokus op praktiese oplossings vir kwessies soos werkloosheid, infrastruktuur en energie. Hy vra ‘n verskuiwing weg van middelmatigheid na meer ambisieuse, betekenisvolle vordering vir volhoubare groei:
# Die Bankvereniging van Suid-Afrika versoek die regering om die hersiening van die kode vir die finansiële sektor te voltooi, wat transformasie in die bankbedryf meet. Die voorsitter van BASA, Mary Vilakazi, sê die bestaande telkaart is ontoereikend om die sukses van inisiatiewe vir swart bemagtiging en transformasie te bepaal. Vilakazi benadruk dat hoewel banke teikens vir swart eienaarskap en verteenwoordiging op junior bestuursvlak oorskry, skiet dit tekort op senior vlak, met slegs 36-persent top senior bestuurders wat swart is, teenoor ʼn teiken van 60-persent.
# Die Gesondheidsdepartement in Noordwes sê hy sal voortgaan om oorledenes as armlastiges te begrawe indien liggame by die Stilfontein-myn na die identifikasieproses nie opgeëis word nie. Sowat 80 liggame word by staatslykhuise in Klerksdorp, Potchefstroom en Brits gehou nadat hulle verlede maand uit ʼn verlate skag by die Buffelsfontein-goudmyn naby Klerksdorp gehaal is. Die meeste kom van Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe. Die departement sê slegs vyf families het tot dusver na vore gekom om die oorledenes se identifikasieproses te begin.
# Minstens vyfduisend-620 mense is die afgelope jaar in Haïti dood en meer as tweeduisend-200 beseer weens die gewapende bendes wat groot dele van die land beheer. Dit is volgens ʼn nuwe verslag van die Verenigde Nasies. Die verslag toon die polisie het in 2024 meer as 250 mense tereggestel. Die afgelope kwartaal is minstens 94 gevalle van verkragting en seksuele uitbuiting aangemeld. Die VN sê meer as ʼn miljoen mense is ontheem, daarom is dringende internasionale ingryping nodig om die land te bestendig.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Daniel van Tonder lei ʼn sterk veld vir die Kaapstad Ope wat vandag by die Royal Cape Gholf-klub begin. Sy agtereenvolgende oorwinnings op die Sonskyn-toer die afgelope twee weke maak hom ʼn krag om mee rekening te hou. Die veld sluit gewese kampioene in soos die Suid-Afrikaner JC Ritchie, Benjamin Follett-Smith van Zimbabwe en die Ier, Liam Nolan. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Martin Vorster, hoop om voort te bou op sy onlangse goeie speelpeil:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-76-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-864-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….