Nuus 06:00
BULLETIN 6 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement bewillig ses-miljoen-rand vir die Staatsrede
# Harmony Gold betreur vyf sterftes in mynvoorvalle
# En rugby: ’n Voormalige speler en afrigter word as nuwe bestuurshoof van die Cheetahs aangestel
# Die Parlement se sekretaris, Xolile George, het bevestig ‘n begroting van ses-miljoen-rand is toegewys vir president Cyril Ramaphosa se staatsrede. Hoogwaardigheidsbekleërs, parlementslede en gewese presidente sal dit bywoon. George sê die begroting is nodig weens die verhoogde logistieke koste om die geleentheid in die Kaapstadse stadsaal te hou na die brand in die Parlementsgebou in 2022. Hy het bevestig herstelwerk aan die Parlement gaan voort:
Rise Mzansi versoek intussen president Cyril Ramaphosa om sy staatsrede te gebruik om sterk leierskap te toon en sy voorkeure uiteen te sit. Die party vra vir beslissende optrede oor werkskepping, misdaadvoorkoming en dienslewering. Hulle stel ook ‘n welvaartbelasting voor om ekonomiese groei te bevorder. ’n Woordvoerder van Rise Mzansi, Mabine Seabe, waarsku Ramaphosa die versuim om korrupsie beslissend aan te pak, sal openbare vertroue vernietig:
# Harmony Gold het die tragiese dood van vyf werkers in twee afsonderlike voorvalle aangemeld. Twee sterftes het by Doornkopmyn in Soweto plaasgevind en drie werkers by die Joelmyn in die Vrystaat is dood nadat los grond by die skag ingeval het. Alle skietwerk is tydelik opgeskort. Harmony Gold het bevestig daar is ondersoeke na die oorsake van die ongelukke aan die gang. Die maatskappy het sy medelye uitgespreek teenoor die gesinne wat geraak is.
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het die uitslag van ‘n tugondersoek verwelkom wat ingestel is teen nege amptenare van die Gautengse Departement van Gesondheid en Departement van Infrastruktuurontwikkeling. Hulle staan tereg op aanklagte van beweerde onreëlmatighede met die toekenning van kontrakte vir die opknapping van die Anglo Ashanti-hospitaal in 2022 ten bedrae van 588-miljoen-rand. Vyf van die amptenare is afgedank. Die SOE sê die tugoptrede toon dat staatsinstellings reageer op die resultaat van sy ondersoeke en stappe doen om amptenare aanspreeklik te hou.
# Die Anglikaanse aartsbiskop, Thabo Makgoba, het by wêreldleiers aangesluit in ‘n oproep om vrede in Goma, in die Demokratiese Republiek die Kongo, nadat M23-rebelle beheer van die stad oorgeneem het. Meer as 900 mense is die afgelope week dood en duisende beseer namate die konflik toeneem. Makgoba het tydens die bekendstelling van die Goma Oproep om Vrede in Kaapstad Afrika-leiers en die internasionale gemeenskap versoek om daadwerklik op te tree om die geweld te beëindig en verdere eskalering te voorkom:
# Rugby: Die Cheetahs se gewese slot en afrigter, Rory Duncan, is aangestel as die unie se nuwe uitvoerende hoof. Die 47-jarige volg Ross van Reenen op, wie se driejaar-termyn in November geëindig het. Duncan het tussen 2006 en 2008 vir die Cheetahs gespeel en ook die Haaie, die EP Kings en ‘n Japannese klub verteenwoordig. Hy het die Vrystaatse span van 2014 tot 2018 afgerig voor hy die Engelse klub Worcester Warriors se breier geword het. Duncan wil fokus op die unie se langtermyn-volhoubaarheid en die versterking van sy internasionale deelname.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-529-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-868-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….