Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staatsrede vind môreaand in die Kaapstadse stadsaal plaas
# Krieket: Daar is twyfel oor die Australiese boulers Pat Cummins en Josh Hazlewood voor die Kampioenebeker-toernooi
# En, Tiger Woods treur na die dood van sy ma, Kultida
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het bevestig president Cyril Ramaphosa lewer môre die staatsrede in die Kaapstadse stadsaal. ’n Tweedaagse debat volg Dinsdag voor Ramaphosa se repliek. Didiza beklemtoon die belangrikheid van die staatsrede in die ontwikkeling van ‘n nasionale debat en sy rol om die drie onderafdelings van die staat, die uitvoerende, die wetgewende en die regterlike gesag, te verenig:
Die DA versoek Ramaphosa intussen om in sy staatsrede voorrang te gee aan fiskale dissipline en bestuur van skuld. Die party waarsku Suid-Afrika kan ekonomies ineenstort indien staatskuld nie verminder word nie. DA-leier, John Steenhuisen, het vir ʼn duidelike plan gevra om skuld te verminder, reddingsboeie aan sukkelende staatsondernemings te staak en onnodige staatsbesteding te besnoei:
# Die man wat tien mense in die Sweedse dorp Orebro afgemaai het, het homself blykbaar ook doodgeskiet. Swede se eerste minister, Ulf Kristersson, het gister se aanval by ‘n onderwyssentrum vir volwassenes beskryf as die ergste massaskietery ooit in die land. Die polisie het aan Sky News gesê dit het lank geneem vir beamptes om die groot skoolterrein te deursoek en te verseker daar is nie meer slagoffers nie. Die aanval het gebeur nadat baie studente huis toe is ná ‘n nasionale eksamen. Die slagoffers was almal ouer as 18.
# Krieket: Die kanse is skraal dat Australië se kaptein, Pat Cummins, betyds fiks sal wees vir die Kampioenebeker-toernooi in Pakistan. Die snelbouler se enkelbesering het weer opgevlam na die onlangse toetsreeks teen Indië. Afrigter Andrew McDonald sê dit is hoogs onwaarskynlik dat Cummins sal kan speel. Daar is ook twyfel oor die fiksheid van nog ‘n snelbouler, Josh Hazlewood, wat drie van die vyf toetse teen Indië misgeloop het weens beserings. Steve Smith of Travis Head sal die kaptein wees as Cummins nie kan speel nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-770-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-863-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse gholf-ikoon, Tiger Woods, het hulde gebring aan sy oorlede ma, Kultida, en beskryf haar as sy grootste ondersteuner. Sy is in Thailand gebore en het ʼn sleutelrol in Woods se loopbaan gespeel en baie van sy geskiedkundige toernooie bygewoon. Die 15-malige major-wenner beskryf haar as die onmiskenbare gees agter sy sukses. Die 78-jarige het haar seun verlede week nog vergesel toe hy aan die TGL-toernooi in Florida deelgeneem het. Woods het nie die oorsaak van haar dood bekendgemaak nie. Die familie het privaatheid versoek terwyl hulle treur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….