Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se sakebedrywighede het in Januarie weer ingekrimp
# Die onmin tussen Amerika en China kring uit
# En, rugby: Makazole Mapimpi loop drie belangrike VRK-wedstryde mis na ‘n tugverhoor
# Bedrywighede in Suid-Afrika se privaat sektor het in Januarie sterk teruggesak. Die S&P Global Suid-Afrikaans Aankoopbestuurders-aanwyser het geval tot 47,4 teenoor 49,9 in Desember – die laagste sedert Julie 2021. Die afname is aangevuur deur laer verkope en ‘n sterk afname in nuwe bestellings, veral in die dienssektor. Maatskappye het vermoedelik gesukkel om kliënte terug te kry, wat moontlik die eerste kwartaal se groei beïnvloed. Die opname het wel verbeterings in plaaslike voorraadkettings gesien, met sommige verkopers wat voordeel getrek het uit die vermindere vraag en verlaagde druk op knelpunte.
# Die DA vra verbeterde bestuur binne die Staatsdiens en sterker teen-korrupsiemaatreëls om die ekonomie ‘n hupstoot te gee. Die party vra die regering om die digitale transformasie van dienste aan te pak ten einde ondoeltreffendheid uit te skakel, bedrog te beperk en koste te verlaag. DA-leier John Steenhuisen het aan die media gesê hierdie stappe is noodsaaklik vir die bevordering van ekonomiese groei en om beter dienste vir burgers te waarborg:
# Die Goma Call for Peace is van stapel gestuur om ‘n onmiddellike wapenstilstand en beskerming vir burgerlikes in die Demokratiese Republiek die Kongo te verseker. Die Anglikaanse biskop van Goma, Martin Gordon, beklemtoon die geweldige lyding sedert die M23-rebelle beheer oor die stad geneem het en wat tot meer as 900 sterftes gelei het. Gordon doen ‘n beroep vir ‘n einde aan die gevegte, die onttrekking van buitelandse magte, en nuwe vredesgesprekke tussen Rwanda en die DRK:
# China beskuldig die Verenigde State van onderdrukking omdat die Amerikaanse Posdiens pakkies uit China en Hongkong opskort, ‘n stap wat die e-handelreuse Temu en Shein kan benadeel. Spanning tussen die VSA en China het die afgelope paar dae die hoogte ingeskiet namate die wêreld se twee grootste ekonomieë ‘n reeks tariewe op mekaar se invoere ingestel het, wat honderde miljarde dollar in handel sal raak. Die posdiens het ook die vrywaring van aksynsbelasting op pakkies ter waarde van 14-duisend-800-rand of minder geskrap.
# Rugby: Die Springbok-vleuel Makazole Mapimpi keer eers volgende maand terug na die Haaie nadat hy vir drie wedstryde geskors is. Hy het voor ‘n tugkomitee verskyn weens ontoelaatbare spel tydens die Haaie se oorwinning van 45-22 oor Cardiff op 25 Januarie. Verslae toon Mapimpi het kontak gemaak met die ooggebied van Cardiff se haker, Efan Daniel. Hy het die oortreding erken en sal volgende Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Bulle misloop, asook teen die Leeus op die eerste en die agste Maart.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-338-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-867-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….