Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Amerikaanse senator beskuldig Suid-Afrika dat hy Amerika vervreem oor die ambassadegeskil met Taiwan
# Krieket: Ses nuwe spelers is voorlopig in die Proteas-span ingesluit wat Maandag teen Nieu-Seeland speel
# En Mej Suid-Afrika wil gestremdes bemagtig deur haar nuwe beweging
# Senator Ted Cruz van Amerika beskuldig Suid-Afrika daarvan dat hy uit sy pad gaan om betrekkinge met Amerika te versuur oor sy besluit om Taiwan se ambassade uit Pretoria te verskuif. News24 berig Cruz sê hierdie stap verswak Amerikaanse sekerheidsbelange en dui op nouer bande met China. Die Taiwannese regering beweer Suid-Afrika het hulle tot einde volgende maand gegee om te hervestig. Hierdie diplomatieke konflik kom te midde van toenemende spanning, met president Donald Trump wat dreig om befondsing aan Suid-Afrika te besnoei oor grondhervormingskwessies.
Die EFF is ontussen onthuts omdat president Cyril Ramaphosa besluit het om die wêreld se rykste mens, Elon Musk, te bel en die Onteieningswet aan hom te verduidelik. Die party sê diplomatieke protokolle is verbreek omdat Ramaphosa ‘n onverkose regeringsamptenaar genader het. Volgens die EFF is dit ‘n duidelike aanduiding van hoe die land se soewereiniteit in die gedrang geplaas word om Amerika se buitelandse hulp te behou. Die EFF sê die Suid-Afrikaans-gebore Musk se inmenging in Amerikaanse buitelandse beleid is gegrond op sy belange as sakeman om sy satelliet-onderneming, Starlink, in Suid-Afrika bekend te stel.
# Die GOOD-party in Tshwane sê hy is bemoedig deur die verbetering in die metro se finansiële status. Tydens gister se spesiale raadsitting is ‘n verslag oor die mediumtermynbegrotingsbeoordeling en ‘n verslag oor die vordering met die metro se mediumtermynprestasieteikens ter tafel gelê. Sarah Mabotsa van GOOD sê in die 2023/’24-boekjaar het Tshwane se skuld tot ekwiteitverhouding op meer as 85-persent gestaan, maar dit is nou verlaag tot minder as 65-persent:
# Krieket: Die Proteas se witbal-afrigter, Rob Walter, het ‘n voorlopige groep van 12 spelers aangewys vir ‘n drie-nasie-eendagreeks teen Pakistan en Nieu-Seeland met Temba Bavuma as kaptein. Meer spelers sal bygevoeg word na vanaand se SA20-elimineerder tussen Sunrisers Eastern Cape en Joburg Super Kings. Marco Jansen, Aiden Markram, David Miller, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Tristan Stubbs, en Rassie van der Dussen speel in hierdie maand se Kampioenetrofee-toernooi en is nie oorweeg nie. Ses groentjies is ingesluit in die groep vir Maandag se eerste wedstryd teen Nieu-Seeland in Lahore.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-121-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-866-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Mej Suid-Afrika, Mia le Roux, het die Mia le Roux-beweging geloods om gestremdes te bemagtig met onderwysgeleenthede en die ontwikkeling van vaardighede. Die beweging beoog om die vaandel te dra vir Suid-Afrika se vier-miljoen gehoorgestremde mense en ook aandag te vestig op die talle vorme van uitsluiting wat in die samelewing voortsloer. Le Roux sê dit het haar doel geword om grense af te breek wat mense uitsluit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….