Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Mej Suid-Afrika, Mia le Roux, het die Mia le Roux-beweging geloods om gestremdes te bemagtig met onderwysgeleenthede en die ontwikkeling van vaardighede. Die beweging beoog om die vaandel te dra vir Suid-Afrika se vier-miljoen gehoorgestremde mense en ook aandag te vestig op die talle vorme van uitsluiting wat in die samelewing voortsloer. Le Roux sê dit het haar doel geword om grense af te breek wat mense uitsluit:
# Die bekroonde Suid-Afrikaanse musikant, Makhadzi, het in die openbaar gesê hy sal 20 studente help wat sukkel om registrasiefooie te betaal. Die Universiteit van Venda is een van die gelukkige begunstigdes en die musikant het tien studente gekies wie se registrasiefooie hy ten volle sal betaal. Die universiteit sê Makhadzi se toewyding om studente uit verskillende agtergronde op te hef, is ‘n kragtige herinnering dat een goeie daad soms iemand se lewe kan verander.
# Kaapstad is aangewys as Britse reisigers se beste langafstand-wegbreekstad in die wêreld. Meer as een-duisend-500 Britte het in ʼn meningspeiling in Which? hul belewenisse in stede buite Europa die afgelope jaar beoordeel. Byna tweeduisend-500 bestemmings is volgens sewe maatstawwe geklassifiseer, wat kos en drank, verblyf, kultuur- en toeriste-aantreklikhede, en waarde vir geld insluit. Kaapstad Toerisme sê die metro se onverbeterlike verskeidenheid avontuur, kultuur en bekostigbaarheid het alle ander stede soos Tokio, Sydney, Dubai en Los Angeles oortref.
# Die Universiteit van KwaZulu-Natal se hoof van Pediatrie en Kindergesondheid, professor Refiloe Masekela, het die gesogte Wêreld-longgesondheids-toekenning van die Amerikaanse Longgesondheids-verening ontvang. Die toekenning gee erkenning aan die besondere bydrae van persone wat wêreld-longgesondheid lewer deur navorsing, gesondheidsorg en opleiding. Die universiteit sê Masekela, ‘n gerespekteerde pediatriese longspesialis, se werk het ‘n noemenswaardige invloed gehad op pediatriese longgeneeskunde wat tot haar internasionale erkenning gelei het.
# En ten slotte: Die langs-dienende hoofredakteur van die tydskrif Vogue, Anna Wintour, is deur koning Charles vereer. Dit is deel van die koning se verjaarsdag-eerbewyse. Wintour het die Companion of Honour-toekenning in Buckingham-paleis ontvang vir haar dienste aan mode. Koningin Elizabeth het Wintour in 2017 ‘n dame gemaak vir haar bydrae tot mode en die joernalistiek. Sy sê sy was heeltemal verras en oorweldig deur haar tweede verering:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….