Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# GOOD sê Ramaphosa moet in sy staatsrede aandag gee aan die voorkeure in die regering se verklaring van voorneme
# ActionSA vra ‘n dringende debat oor die krisis met werklose dokters
# En sokker: ‘n Gewese Engelse speler waarsku Ruben Amorim oor sy hantering van Marcus Rashford
# Die GOOD-party sê president Cyril Ramaphosa moet in sy staatsrede verduidelik hoe die regering gaan aandag gee aan die voorkeure wat in die verklaring van voorneme vervat is. Hy lewer môreaand sy staatsrede in Kaapstad. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die regering van nasionale eenheid het die afgelope maande deurgeloop onder ideologiese skeuring, dwarstrekkery en dreigemente om te onttrek oor wetgewing wat die vorige regering ingestel het:
Raadgewende Ingenieurs Suid-Afrika maan Ramaphosa intussen om in sy staatsrede praktiese doelwitte vir infrastruktuurprojekte te stel. Die uitvoerende hoof, Chris Campbell, beklemtoon die behoefte aan infrastruktuur-oplossings op munisipale vlak en sê waterlekkasies en onwettige verbindings is ‘n groot probleem. Campbell sê die sektor is gereed om met die regering saam te werk vir tegniese kennis, mentorskap en werksgeleenthede vir die jeug in die ingenieursbedryf.
# ActionSA het ‘n dringende parlementêre debat aangevra oor die krisis waarin duisende werklose mediese beroepslui verkeer, ten spyte van ernstige tekorte aan openbare gesondheidsorgpersoneel in Suid-Afrika. Die party beklemtoon 22-persent van befondsde poste vir dokters is nie gevul nie, spesifiek in die Vrystaat en Mpumalanga. Matthew George van ActionSA bepleit die beveiliging van die gesondheidsorgstelsel:
# Sokker: Die gewese Engelse speler Paul Merson waarsku Manchester United se hoofafrrigter, Ruben Armorim, kan sy werk verloor oor sy hantering van Marcus Rashford. Die voorspeler, wat 60 wedstryde vir Engeland gespeel het en 287 vir United, is pas op ‘n leenooreenkoms na Aston Villa nadat Amorim sedert middel Desember geweier het om hom te kies omdat hy glo nie sy kant bring nie. Merson sê as Rashford by Villa weer op dreef kom en United bly sukkel, sal Amorim dalk sy optrede aan sy werkgewers moet verduidelik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-871-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-870-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die Britse bankreus Standard Chartered het die Suid-Afrikaanse bank-veteraan Maria Ramos aangestel as sy nuwe voorsitter in die plek van José Vinals. Ramos het in 2021 by die bank se direksie aangesluit as onafhanklike nie-uitvoerende direkteur. Sy sal haar nuwe posisie inneem na die jaarvergadering op 8 Mei, afhangend van regulatoriese goedkeuring. Ramos was voorheen uitvoerende hoof van Absa en direkteur-generaal van Finansies tydens oudpresident Nelson Mandela se termyn. Sy gaan na Londen verhuis en bedank uit Richemont se direksie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….