Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kaapstad se burgemeester sê Ramaphosa moet in sy staatsrede op hawens, polisiëring en passasierstreine fokus
# Die ANC en DA bereik volgens berigte ’n ooreenkoms oor belangrike aspekte van die Nasionale Gesondheidsversekering
# En tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen Simona Halep kondig haar uittrede aan
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, vra president Cyril Ramaphosa om in die staatsrede groot hervorming in die bestuur van hawens, passasierstreine en wetstoeapssing aan te kondig. Die president lewer sy staatsrede môreaand in Kaapstad. Hill-Lewis sê dit sal groot ekonomiese voordele vir die streek inhou as die stad se hawe, passasierstreine en wetstoepassing herstel word:
# Die twee hoofpartye in die regering van nasionale eenheid, die ANC en die DA, het volgens berigte ‘n informele ooreenkoms bereik oor sommige aspekte van die Nasionale Gesondheidsversekering. News24 berig die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sê die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, en DA-leier John Steenhuisen het verlede week informeel beraadslaag tydens die kabinet se lekgotla. Sy sê hulle het ʼn voorstel aanvaar dat die regering nie mediese skemas sal vernietig nie en dat ʼn ministeriële raadgewende raad aangestel sal word.
# Die Departement van Binnelandse Sake het in die derde kwartaal van 2024/’25 970-duisend-543 slim-ID’s uitgereik en daarmee sy teiken van 575-duisend met 69-persent oortref. Minister Leon Schreiber sê meer as 1,8-miljoen slim-ID’s is in twee kwartale uitgereik en Binnelandse Sake is op koers om sy jaarlikse teiken van 2,5-miljoen te oortref, sy beste vertoning sedert slim-ID’s bekendgestel is:
# Tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Simona Halep, het haar uittrede aangekondig en sê haar liggaam laat haar nie toe om verder mededingend te speel nie. Die 33-jarige Roemeen het haar besluit op die Transsilvaniese Ope bekendgemaak nadat sy in die eerste ronde teen die Italianer Lucia Bronzetti verloor het. Halep, ʼn tweemalige Grand Slam-kampioen, is in Augustus 2022 vir vier jaar geskors weens opkikkergebruik. Dis tot nege maande verminder nadat sy verlede jaar na die Hof vir Arbitrasie in Sport geappelleer het. Halep het tydens haar loopbaan 22 WTA-toer-titels gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-853-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-865-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Dis vandag nege jaar sedert die tragedie by die Lilymyn in Barberton, Mpumalanga, wat die lewens geëis het van Pretty Nkambule, Solomon Nyirenda en Yvonne Mnisi. Die ineenstorting in 2016, veroorsaak deur onwettige mynbedrywighede en verwaarloosde veiligheidsmaatreëls, het die drietal ondergronds vasgekeer en hulle liggame is steeds daar. ‘n Ondersoek het staatsdepartemente en mynoperateurs beskuldig dat hulle nie die tragedie voorkom het nie. Die families en ondersteuners eis steeds geregtigheid en aanspreeklikheid, met beroepe wat toeneem vir die herwinning van die werkers se oorskot.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….