Nuus 11:00
BULLETIN 5 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC en die DA bereik volgens berigte ’n ooreenkoms oor belangrike aspekte van die Nasionale Gesondheidsversekering
# Mashatile is bekommerd oor die onbestendigheid van plaaslike regeringkoalisies
# En tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen Simona Halep kondig haar uittrede aan
# Die twee hoofpartye in die regering van nasionale eenheid, die ANC en die DA, het volgens berigte ‘n informele ooreenkoms bereik oor sommige aspekte van die Nasionale Gesondheidsversekering. News24 berig die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sê die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, en DA-leier John Steenhuisen het verlede week informeel beraadslaag tydens die kabinet se lekgotla. Sy sê hulle het ʼn voorstel aanvaar dat die regering nie mediese skemas sal vernietig nie en dat ʼn ministeriële raadgewende raad aangestel sal word.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê onbestendigheid in plaaslike regeringkoalisies het bygedra tot ernstige ondoeltreffendheid en diensleweringsuitdagings. Hy het die lekgotla van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging in Kaapstad toegespreek. Mashatile sê koalisiereëlings het munisipaliteite se vermoë beperk om beleid te aanvaar, begrotings deur te voer, verordenings aan te neem en aanstellings te maak op senior bestuursvlak. Hy sê ‘n koalisieraamwerk is ontwikkel om dienslewering te versnel en swak prestasie teen te werk:
# AgriSA verwelkom die gebalanseerde benadering van die Nasionale Minimumloonkommissie tot die minimumloonverhoging van 4,4-persent, met ingang 1 Maart. Die loon styg van 27-rand-58-sent tot 28-rand-70-sent per uur. Die uitvoerende hoof, Johann Kotzé, benadruk die aanpassing verseker die voortbestaan van plaaswerkers. Hy sê dit neem ook die volhoubaarheid van die landbousektor in ag, te midde van droogte en ekonomiese uitdagings. Kotzé verwag die sektor sal vanjaar groei van 3,5-persent in die bruto binnelandse produk ondervind weens die verwagte La Niña-weerpatroon en geleidelike ekonomiese herstel.
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy steun president Donald Trump se voorstel om ondersoek in te stel na Amerika se oorname van die Gazastrook. Trump het gister tydens ‘n vergadering met Netanyahu in die Withuis daarop aanspraak gemaak dat Gaza die Riviera van die Midde-Ooste kan word. Hy het ook nie die moontlikheid uitgesluit dat Amerikaanse soldate gestuur kan word om dit te vermag nie. Netanyahu sê Israel fokus op die versekering dat Gaza nie langer ‘n gevaar vir sy land inhou nie:
# Tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Simona Halep, het haar uittrede aangekondig en sê haar liggaam laat haar nie toe om verder mededingend te speel nie. Die 33-jarige Roemeen het haar besluit op die Transsilvaniese Ope bekendgemaak nadat sy in die eerste ronde teen die Italianer Lucia Bronzetti verloor het. Halep, ʼn tweemalige Grand Slam-kampioen, is in Augustus 2022 vir vier jaar geskors weens opkikkergebruik. Dis tot nege maande verminder nadat sy verlede jaar na die Hof vir Arbitrasie in Sport geappelleer het. Halep het tydens haar loopbaan 22 WTA-toer-titels gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-459-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-855-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-7-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….