Nuus 09:00
BULLETIN 5 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile sê die Onteieningswet sal ekonomiese inklusiwiteit en voedselsekerheid gee
# COPE kritiseer Trump se opsetlike waninterpretasie van Wet op Onteiening van Grond
# En minstens tien sterf in die ergste massaskietery in Swede se geskiedenis
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die Wet op die Onteiening van Grond sal verseker dat ekonomiese insluiting, voedselsekerheid, maatskaplike samehorigheid, inklusiewe ruimtelike patrone en landelike ontwikkeling bereik word. Dit gebeur terwyl die Amerikaanse president Donald Trump beplan om alle toekomstige befondsing aan Suid-Afrika te sny weens die land se grondonteieningswette. Mashatile het die legotla van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging se nasionale uitvoerende komitee gister in Kaapstad toegespreek en die belangrikheid van grondeienaarskap beklemtoon:
Intussen veroordeel Cope wat hy sê Trump se opsetlike en misleidende aansprake oor die wet is. Die Amerikaanse president beweer die regering lê beslag op grond en behandel sekere klasse mense baie sleg. Cope sê terwyl die wet ten doel het om ongeregtighede uit die verlede reg te stel, behoort Trump nie toegelaat te word om Suid-Afrika ‘n kolonie van Amerika te maak nie. Hy voeg by Suid-Afrika is ‘n grondwetlike demokrasie wat gegrond is op geregtigheid, gelykheid en die oppergesag van die reg.
# Die DA in Gauteng vra dat strafregtelike aanklagte aanhangig gemaak word teen nege amptenare van die Departement van Infrastruktuur. Die amptenare word betrek by die Anglo Ashanti Hospitaal-skandaal. Die provinsiale regering het in 2022 die besteding van 588-miljoen-rand goedgekeur om die Anglo Gold Ashanti Hospitaal aan die Wes-Rand op te gradeer. ‘n Jaar ná die opgradering het die mynmaatskappy egter die regering se huurkontrak om die hospitaal te gebruik, gekanselleer. Jack Bloom van die DA sê aanspreeklikheid is nodig:
# ʼn Skietvoorval by ʼn onderwyssentrum in die stad Örebro in sentraal-Swede het minstens tien mense, insluitend die skieter, se lewens geëis. Ses mense is gewond. Die polisie sê daar is tans geen aanduiding dat die skieter se motief ideologies van aard was nie. Swede se eerste minister, Ulf Kristersson, beskryf die aanval as ʼn verskriklike daad van geweld en die ergste massaskietvoorval in die land se geskiedenis. ʼn Student, Andreas Sundling, het die terreur in sy klaskamer aan Sky News beskryf:
# Tennis: Die topgekeurde Carlos Alcaraz is deur na die tweede ronde van die Rotterdam Ope in Nederland. In sy eerste wedstryd sedert die Australiese Ope het die Spanjaard gesukkel om die Hollandse promotorskeuse Botic van de Zandschulp met 7-6, 3-6, 6-1 onder te kry. Verlede jaar se naaswenner, die Australiër Alex de Minaur het David Goffin van België met 6-2, 6-4 geklop, terwyl die vierde-gekeurde Rus Andrey Rublev Zhang Zhizhen van China met 6-3, 6-4 uitgeskakel het vir sy eerste oorwinning vanjaar oor ‘n top-50 mededinger.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-151-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-861-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 75-dollar-62-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….