Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het met die Suid-Afrikaans-gebore miljardêr en vertroueling van president Donald Trump, Elon Musk, gepraat oor die Amerikaanse president se uitlatings oor grondonteiening in Suid-Afrika en sy dreigement om befondsing aan die land te staak.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei ook met Ramaphosa se gesprek met Musk. Die blad berig die Suid-Afrikaanse president het wanvoorstellings oor die Onteieningswet uit die weg geruim. Dan skryf die blad verskeie burgerregte-organisasies het Trump veroordeel vir sy aannames wat op leuens gegrond is.
Dan word berig oudpresident Jacob Zuma se pogings om Ramaphosa privaat te vervolg het weer misluk met die Konstitusionele Hof wat sy appèlaansoek van die hand gewys het.
En laastens is daar nuus oor die oorskot van die Suid-Afrikaanse soldate wat in die DRK gesneuwel het. Die liggame sal waarskynlik vandag in die land aankom.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf parlementslede van verskillende partye het gister die land se banke se gedrag, voorkeurbehandeling, gebrek aan transformasie, hoë fooie en arbitrêre besluite oor die sluiting van rekeninge sonder rede bevraagteken.
En berig ‘n groot groep organisasies het na vore gekom om AfriForum se steunwerwing van Amerikaanse president Donald Trump oor Suid-Afrika se grondonteieningswetsontwerp te veroordeel.
# Sowetan:
Lei met: “IS THIS WAR ON BUSES?” Die koerant berig minstens 60 busse is die afgelope week in twee provinsies uitgebrand terwyl twee bestuurders van Rea Vaya in Soweto doodgeskiet is. Die busbestuurders word nou deur die metropolisie begelei om ook passasiersveiligheid te verseker.
# En The Citizen:
Skryf die publikasie van die Nasionale Register vir Seksoortreders teen die einde van die maand is allerweë verwelkom aangesien nege uit tien kindermisbruikers herhaaldelike oortreders is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald het die parool van Alison Botha se aanvallers en verkragters, Frans du Toit en Theuns Kruger opgeskort. Botha het die afgelope ruk ernstige mediese probleme ervaar.
En tweedens skryf die koerant die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube sê haar departement is druk besig met die regulasies in die Bela-wet.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig dit is reeds twee jaar sedert kommer uitgespreek is oor diewe wat die kabels van die veselglasstraatligte langs die N2 in Colchester stroop. Tans is daar slegs stompies van die ligte oor.
En tweedens skryf die koerant ook oor die opskorting van Du Toit en Kruger se parool.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Spesiale Ondersoekeenheid het begin met hul ondersoek na die bedrywighede van Ithala-bank.
En berig een van die drie leeus wat in ‘n bos in die Glückstadt-omgewing, suidoos van Vryheid skuil, is volgens Ezemvelo KZN Wildlife geskiet.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n gesin van Swakopmund eis geregtigheid nadat hul geliefde rottweiler, Ragnir, die afgelope naweek na bewering gesteel, met ’n byl doodgekap en sy vleis verkoop is.
Dan skryf die koerant die Mondesa-kliniek in Swakopmund is tydelik gesluit nadat ’n brand Maandag in die vroeë oggendure uitgebreek het.
En laastens word berig die Meteorologiese Diens van Namibië maan dat kitsvloede môre plek-plek kan voorkom met matige tot wydverspreide donderstorms in die sentrale en noordwestelike dele.