Nuus 07:00
BULLETIN 5 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wêreldbank sê Suid-Afrika se onderwysstelsel word deur swakgehalte-onderrig geraak
# Solidariteit waarsku SA kan nie bekostig om AGOA-voordele te verloor nie
# En Sirië se tussentydse president vra dat Amerikaanse sanksies opgehef word
# Die Wêreldbank sê Suid-Afrika se basiese onderwysstelsel se vermoë om goeie uitkomste te lewer, word deur onderrig van swak gehalte en gebrek aan aanspreeklikheid belemmer. Die instelling het Dinsdag sy jongste verslag oor die land vrygestel. Volgens die verslag kon 78-persent graad 4-leerders in 2016 nie met begrip lees nie en dié syfer het in 2021 tot 81-persent toegeneem. Die Wêreldbank sê die regering moet voorkeur gee aan onderwys se grondslagfase en met die privaat sektor saamwerk om toegang tot en gehalte van onderwys te verbeter.
# Die vakbond Solidariteit sê Suid-Afrika verkeer in gevaar om die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika se handelsvoordele met die Verenigde State van Amerika te verloor weens swak diplomatieke betrekkinge. Die vakbond gee die regering se bande met China, Rusland en Iran die skuld en is van mening beleide soos die Wet op Onteiening veroorsaak spanning met Amerika. Jaco Kleynhans van Solidariteit belowe om vanjaar voort te gaan en steun te werf vir die hernuwing van AGOA om meer as 500-duisend werksgeleenthede te beskerm:
# Die vakverbond Cosatu voorsien president Cyril Ramaphosa sal ferm optrede in sy staatsrede aankondig om verskeie krisisse aan te pak. Belangrike eise sluit bestendigheid by Eskom en Transnet in, ondersteuning vir sukkelende munisipaliteite, die uitbreiding van openbare indiensnemingsprogramme, en die verandering van die noodverligtingstoelaag na ‘n Basiese Inkomstetoelaag. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, het gewys op die behoefte aan beslissende leierskap:
# Die Gautengse regering het tugstappe teen nege amptenare afgehandel wat betrokke was by korrupsie met kontrakte van die Anglo Ashanti-hospitaal. Die Spesiale Ondersoekeenheid het aanbevelings gemaak oor die 2022-opknappingskandaal en vyf mense is afgedank, twee gewaarsku, en een vrygespreek. Daar is ook een wat nie verskyn het nie aangesien hy diens verlaat het. Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het die regering se verbintenis tot deursigtigheid en aanspreeklikheid beklemtoon. Hy het daarop gewys hoe belangrik dit is om te verseker alle verantwoordelike partye word aanspreeklik gehou vir wangedrag, bedrog en korrupsie.
# Sirië se tussentydse president, Ahmed al-Sharaa, het gevra dat Amerikaanse sanksies teen sy land opgehef word en sê sy land wil bande met Amerika herstel. Amerika, Brittanje, die Europese Unie en ander regerings het streng sanksies teen Sirië ingestel nadat oudpresident Bashar al-Assad in 2011 op pro-demokrasie-betogings toegeslaan en dit tot ‘n burgeroorlog gelei het. Al-Sharaa sê die sanksies hou groot gevaar in vir Sirië en sy herstel van die burgeroorlog. Hy sê ook hy glo president Donald Trump wil vrede in die gebied hê.
# Hokkie: Die Suid-Afrikaanse vrouespan se hoop om die FIH Binnenshuise kwarteindronde in Kroasië te haal, hang aan ‘n dun draadjie. Die wêreldkampioene van Oostenryk het hulle Dinsdag met tien-nul afgeransel en hulle het albei hul Groep B-wedstryde verloor. Hulle moet môre hul wedstryd teen Pole wen om in die stryd te bly. Suid-Afrika se manspan kon nie hul wenlopie in Groep A volhou nie en Oostenryk het hulle met agt-ses verslaan. Hulle sal Donderdag teen Pole sake uitspook vir die tweede plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-842-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-849-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….