Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Groenewald kanselleer die parool vir Alison Botha se aanvallers
# Die Sentrum vir risiko-ontleding sê Suid-Afrika se standpunt oor Iran, China, Rusland en Israel kan Amerikaanse sanksies ontlok
# En, rugby: Skotland hoop op sy eerste sege oor Ierland in agt jaar
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het die parool gekanselleer wat aan Frans du Toit en Theuns Kruger toegestaan is, wat gevonnis is nadat hulle Alison Botha in 1995 aangeval en verkrag het. Botha het die gewelddadige aanval in Gqeberha oorleef nadat sy vir dood agtergelaat is, en kon haar aanvallers uitken. Die parool van 2023 is teruggetrek na ‘n hersiening ingevolge die Wet op Korrektiewe Dienste. Die minister beklemtoon gemeenskapsveiligheid kry voorkeur en herbevestig die departement se verbintenis tot geregtigheid en die regte van slagoffers.
# Die Sentrum vir Risiko-ontleding waarsku Suid-Afrikaanse amptenare wat die land se beleid oor Iran, China, Rusland en Israel bestuur, kan Amerikaanse sanksies ontlok. Amptenare wat regstreeks verbind word met kwessies soos korrupsie loop veral gevaar. Volgens die organisasie verhoog Suid-Afrika se hernude regsoptrede teen Israel die waarskynlikheid van moontlike sanksies. Woordvoerder Chris Hattingh sê Washington kan sanksies oplê wat sy ontevredenheid weerspieël met die regering se standpunte oor buitelandse beleid:
RISE Mzansi se leier, Songezo Zibi, het Suid-Afrika intussen aangemoedig om eerder nuwe markte te vind as om mineraaluitvoere na die VSA te onttrek. Dit volg ná die minister van Minerale Bronne, Gwede Mantashe, standpunt ingeneem het oor dreigemente deur die Amerikaanse president, Donald Trump. Zibi het tydens ‘n gesprek met Newzroom Afrika gewaarsku oor moontlike gevolge vanaf die Amerikaanse administrasie en beklemtoon Suid-Afrika moet homself beskerm:
# Duisende mense het van die Griekse eiland Santorini gevlug terwyl honderde aardbewings steeds deur die bekende toeristebestemming gevoel word. Santorini staan bekend as Griekeland se “Instagram-eiland” en lok sowat 3,4-miljoen besoekers per jaar, maar huisves slegs ongeveer 20-duisend permanente inwoners. Baie het besluit om na die veiligheid van die vasteland te vlug. Die mees onlangse groot aardbewing op Santorini was in 1956 met ʼn lesing van 7,5. Minstens 53 mense is toe dood en meer as 100 beseer.
# Rugby: Ierland se skrumskakel, Jamison Gibson-Park, sal nie verbaas wees indien Skotland hulle hierdie naweek die eerste keer in agt jaar klop nie. Die twee spanne speel Sondag teen mekaar in ʼn Sesnasies-wedstryd op Murrayfield. Skotland het Ierland laas in 2017 geklop en daarna tien keer agtermekaar verloor. Gibson-Park glo egter Skotland is ʼn puik span met baie goeie spelers en verwag ʼn taai kragmeting. Italië speel Saterdag in die tweede ronde in Rome teen Wallis en Engeland en Frankryk speel op Twickenham.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-425-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-824-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….