Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Die gewese minister van Staatsveiligheid verskyn in die hof op aanklagte van korrupsie
# Suikerrietkwekers sê suikerbelasting bekamp nie vetsug nie, maar vernietig werksgeleenthede
# En, sokker: Manchester City bestee 4,18-miljard-rand aan nuwe kontrakte in Januarie
# Die voormalige minister van Staatsveiligheid, Bongani Bongo, het vandag in die Landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklagte van korrupsie. Hy het na bewering in 2017 probeer om ‘n lid van die Parlement se portefeuljekomitee om te koop om Eskom-verwante verrigtinge te staak. Die afgedankte Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe, het Bongo in 2021 vrygespreek, maar die Appèlhof het dit omgekeer. Hy is borgtog van vyf-duisend-rand toegestaan, en moet op 4 Maart weer voorkom. Bongo het aan verslaggewers gesê die saak is ongegrond:
# AfriForum versoek deursigtigheid en duidelikheid nadat die Valke bevestig het die ondersoek na VBS Bank is voltooi en vervolgings sal binnekort volg. Barry Bateman van AfriForum sê sy Privaat-vervolgingseenheid vra of dit aanklagte van rampokkery, geldwassery en korrupsie insluit, soos AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, beweer. Die organisasie dring aan Kriel se standpunt dek breër misdadige aantygings wat verder as VBS strek. AfriForum voer aan Kriel se beëdigde verklaring moet amptelik in die saakdossier gevoeg word.
# SA Suikerrietkwekers sê suikerbelasting kon nie vetsug doeltreffend beveg nie, ondanks aansprake tot die teendeel. Die organisasie sê dit het eerder tot aansienlike werksverliese gelei. Meer as 16-duisend werksgeleenthede het verlore gegaan in die eerste jaar nadat die belasting in 2018 ingestel is. Die voorsitter van SA Suikerrietkwekers, Higgins Mdluli, sê gesondheids-aktiviste se volgehoue versoeke aan die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om suikerbelasting te verhoog, is misplaas en sal voortbestaan in landelike gebiede verder benadeel:
# Sokker: Manchester City het verlede maand 4,18-miljard-bestee nadat hy ‘n kontrak van 698-miljoen-rand aangegaan het met die Spaanse middelveldspeler, Nico Gonzalez. Dit is die twee grootste besteding in die Januarie-venster na die 6,3-miljard-rand wat Chelsea in 2023 uitgegee het. Gonzalez, wat van Porto oorkom, is die vyfde speler wat City in die huidige venster gekontrakteer het. Die 23-jarige sê hy wil homself in Engeland beproef en glo City is die beste span vir hom om dit te bereik. Hy glo hulle spelers is van wêreldgehalte.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-419-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-818-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Wêreldkankerdag word vandag herdenk en die Universiteit Stellenbosch sê servikale kanker bly ‘n groot gesondheidsuitdaging. Dokter Robyn Adams sê meer as 90-persent van die sterftes kom in lae- en middelinkomstelande voor. Sy sê Afrika suid van die Sahara is een van die streke wat die swaarste getref is, ondanks die vooruitgang in vroeë opsporing en voorkoming:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….