Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Een van die wêreld se gewildste sosiale mediaplatforms, Facebook, vier vandag sy 21ste verjaardag. Mark Zuckerberg het dit in 2004 aanvanklik as ‘n sosiale platform vir studente geskep. Die platform het byna drie-miljard geregistreerde gebruikers op sy netwerk terwyl 350-miljoen foto’s daagliks opgelaai word. Indië het sowat 260-miljoen intekenaars, die hoogste aantal aktiewe Facebook-gebruikers wêreldwyd. Facebook is die wêreld se derde gewildste webwerf na Google en Youtube.
# Beyoncé is gereed om op haar langverwagte Cowboy Carter-toer te vertrek met drie Grammy-toekennings vars agter haar blad, insluitend Album van die Jaar. Die konsertreeks van 22 vertonings begin in April met vier aande in die SoFi-stadion in Los Angeles. Dit verskuif daarna na Chicago, Londen, Parys, Texas en Washington en eindig op 11 Julie in Atlanta. Die Cowboy Carter-album gee konteks aan die swart oorsprong van countrymusiek. Kaartjieverkope vir die toer begin volgende Vrydag.
# East Africa Marine Transport het die Victoriameer se eerste geskeduleerde oprol-/afrol-vragskuit te water gelaat. Die MV Mpungu is in Uganda gebou en verminder vervoertyd van dae tot slegs 18 uur, as ‘n veiliger, groener alternatief vir padvrag. Die RoRo kan 21 vragmotors hanteer en het ten doel om streekhandel ‘n hupstoot te gee en uitstralings te verminder. Uganda se eerste minister, Robinah Nabbanja, beskryf dit as ‘n mylpaal vir ekonomiese en omgewingsvooruitgang. Die vaartuig sal tussen Uganda en Tanzanië bedryf word, met toekomstige uitbreiding wat voorsien word.
# Swem: Oscar Chalupsky, wat reeds twaalf keer die branderski-wêreldkampioen was, beplan om die komende naweek die jaarlikse Midmar-myl in KwaZulu-Natal saam met sy 87-jarige pa, Paul, aan te pak. Chalupsky seëvier steeds ondanks teëspoed sedert hy in 2019 met beenmurgkanker gediagnoseer is en dokters hom ses maande gegee het om te lewe. Hy sê hy voel goed en die oefening gaan ook goed. Chalupsky sê dit was maklik om sy pa te oortuig om by die ikoniese oopwatergeleentheid aan te sluit. Paul Chalupsky sal die oudste tussen die geraamde 12-duisend swemmers wees.
# En ten slotte: Meer as 30 bedreigde paddatjies is in die Londense dieretuin gebore ná ‘n dramatiese reddingsending van elf-duisend-kilometer. Die Darwin-padda, vernoem na Charles Darwin, is as bedreig geklassifiseer nadat ‘n dodelike swam in hul habitat ontwikkel het. Dit was ‘n moeilike taak om die bedreigde amfibieë na die VK te vervoer en het ‘n reis na Chili en ‘n moeisame soektog na die klein wesentjies vereis, aangesien volgroeide paddas minder as drie-sentimeter lank is. Elf manlike paddas het die 33 paddatjies tot met hul geboorte gedra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….