Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu dreig met massa-optrede as die regering nie aandag gee aan die ekonomiese krisis nie
# Swem: ‘n Branderski-wêreldkampioen en sy 87-jarige pa gaan die Midmar-myl saam aanpak
# En ‘n verbod op katte kan in Skotland voorgestel word
# Die vakbondfederasie Saftu sê nog ‘n jaar van leë beloftes wag op werkers en die armes. Die organisasie het voor Donderdag se staatsrede die regering van nasionale eenhede se besuinigingsmaatreëls gekritiseer en waarsku begrotingsbesnoeiings vererger werkloosheid, armoede en ongelykheid. Saftu beloof om massa-optrede te verstewig as die regering nie aandag gee aan die groeiende ekonomiese krisis nie. Woordvoerder Newton Masuku eis meer poste in die Staatsdiens, regverdige vergoeding en optrede teen korrupsie:
# Die Stad Johannesburg het eienaars van spazawinkels gewaarsku om hul ondernemings voor die sperdatum van 28 Februarie te registreer. Die nasionale regering vereis die registrasie ná ‘n skerp toename in voedseloordraagbare siektes wat met produkte by spazawinkels verbind word. Die metro se woordvoerder, Virgil James, sê hulle het in die eerste periode meer as tienduisend registrasievorms in die sewe streke versprei, maar bevind byna geen spazawinkeleienaar het aan regulasies voldoen nie:
# Onlangse toetse toon wisselende E. coli-vlakke in die Vaalrivier met sommige gebiede wat ‘n hoë risiko vir maagsiektes inhou. ‘n Monster wat naby Village Manor geneem is, toon ‘n telling van 72-duisend-700 per 100-millimeter, hoewel dit laer is as verlede week se 111-duisend-990. Rand Water verseker inwoners die drinkwater is steeds veilig want dit kom uit die Vaaldam en nie die rivier nie. Die vlakke van blou-groen alge wissel ook wat voortgesette kommer oor watergehalte benadruk ondanks die verbeterde watervlak van die Vaaldam op 61,3-persent.
# Swem: Oscar Chalupsky, wat reeds twaalf keer die branderski-wêreldkampioen was, beplan om die komende naweek die jaarlikse Midmar-myl in KwaZulu-Natal saam met sy 87-jarige pa, Paul, aan te pak. Chalupsky seëvier steeds ondanks teëspoed sedert hy in 2019 met beenmurgkanker gediagnoseer is en dokters hom ses maande gegee het om te leef. Hy sê hy voel goed en die oefening gaan ook goed. Chalupsky sê dit was maklik om sy pa te oortuig om aan die ikoniese oopwatergeleentheid deel te neem. Paul Chalupsky sal die oudste tussen die geraamde 12-duisend swemmers wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-578-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-815-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Skotse ministers word gevra om katte se uitwerking op die natuurlewe te ondersoek, wat kan veroorsaak dat hulle verbied kan word in streke waar bedreigde spesies voorkom. Inwoners sal dan gedwing word om hulle katte binnenshuis te hou, of hulle glad nie aan te skaf nie. Volgens ‘n verslag van die Skotse Dierewelsynskommissie is beperkingsones reeds in verskeie state in Australië ingestel waar katte in sommige plekke nooit mag kom nie, en in sommige snags beperk word. Die enigste uitsondering is vir omheinde buitelug-oefengeriewe of dat katte aan leibande moet wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….