Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA waarsku Ramaphosa om nie in die staatsrede beloftes te maak wat hy nie kan nakom nie
# Krieket: ‘n Plek in die eindstryd van die SA20 is vandag op die spel in Gqeberha
# En, Facebook vier vandag sy 21ste verjaardag met byna drie-miljard intekenaars
# President Cyril Ramaphosa gaan Donderdag sy staatsrede lewer en Build One South Africa sê landsburgers verdien meer as herwinde retoriek. Die party beskuldig die president dat hy in sy staatsredes beloftes maak wat hy nie nakom nie. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê hulle het tien van die skreiendste gebreekte beloftes oor die afgelope paar jaar geïdentifiseer wat Ramaphosa se mislukkings ontbloot. Hy sê dit sluit Eskom se ontbondeling, die vermindering van werkloosheid en digitale migrasie in:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê die vervaardigingsektor in Suid-Afrika kry swaar, met die Absa-aankopebestuurders-aanwyser wat in Januarie die derde agtereenvolgende maand gedaal het en tans 45,3 is. Die buro waarsku swak aanvraag, stygende onkoste en werksverliese kan die ekonomiese groei vroeg vanjaar belemmer. Nuwe verkoopsbestellings en sake-bedrywighede het ‘n effense verbetering getoon, maar indiensneming neem steeds af. Ontleders is versigtig optimisties en voorspel ‘n BBP-groei van 1,5-persent vir 2025, hoër as die 0,7-persent verlede jaar.
# Die Wes-Kaapse toerismesektor het met rasse skrede gegroei. Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het ‘n toename van tien-persent in aankomste getoon met 226 internasionale vlugte wat weekliks daar land. Die plesiervaartsektor groei ook en 88 skepe het hierdie seisoen vasgemeer. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei en Toerisme, James Vos, sê pogings om toeriste te lok werp nou vrugte af:
# Krieket: ‘n Plek in Sondag se eindstryd van die SA20 is vandag op die spel in die eerste kwalifiseerder tussen die bure MI Cape Town en Paarl Royals in Gqeberha. Die wenner kan agteroor sit en wag om uit te vind wie sy teenstander op die Wanderers gaan wees, terwyl die verloorder nog ‘n kans kry om deur te dring. Daardie span kom in die tweede kwalifiseerder te staan teen die wenner van môre se elimineerder tussen Joburg Super Kings en Sunrisers Eastern Cape in Centurion. Die wenner kry prysgeld van 34-miljoen-rand en die naaswenner 16,25-miljoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-471-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-815-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Een van die wêreld se gewildste sosiale mediaplatforms, Facebook, vier vandag sy 21ste verjaardag. Mark Zuckerberg het dit in 2004 aanvanklik as ‘n sosiale platform vir studente geskep. Die platform het byna drie-miljard geregistreerde gebruikers op sy netwerk terwyl 350-miljoen foto’s daagliks opgelaai word. Indië het sowat 260-miljoen intekenaars, die hoogste aantal aktiewe Facebook-gebruikers wêreldwyd. Facebook is die wêreld se derde gewildste webwerf na Google en Youtube.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….