Nuus 09:00
BULLETIN 4 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Schreiber prys die privaat sektor se hulp met visum-agterstande
# Die Informele Handelaarsalliansie sê die Tabakwetsontwerp sal informele handel benadeel
# En die M23-rebelle kondig ‘n humanitêre skietstilstand af
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, prys die suksesvolle openbare-privaat samewerking wat die visum-agterstand van meer as 306-duisend onverwerkte aansoeke aangepak het. Hy het die agterstand-bomspan geloof vir hul toewyding en innoverende benadering. Schreiber is van mening die samewerking tussen die departement en sakevennote het nie net die vertroue in Binnelandse Sake herstel nie, maar baan ook die weg vir toekomstige hervormings, insluitend die uitbreiding van dienste op digitale platforms en die aflewering van dokumente op burgers se drumpels:
# Die Suid-Afrikaanse Alliansie van Informele Handelaars sê hy stem saam met die gesondheidsgevare van rook, maar is bekommerd oor die ekonomiese uitwerking van die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels. Die parlementêre portefeuljekomitee oor Gesondheid het sy provinsiale openbare verhore oor die wetsontwerp afgehandel. Dit stel strenger maatreëls voor om die rookgewoonte en blootstelling aan tabakrook te bekamp. Die alliansie sê indien die wetsontwerp bekragtig word, kan dit meer as ses-miljoen informele handelaars benadeel wat vir hul lewensbestaan deels op tabakverkope staatmaak.
# Die DA in Tshwane is bekommerd omdat die burgemeester, Nasiphi Moya, die spertyd gemis het om ‘n noodsaaklike finansiële verslag aan die raad voor te lê. Ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur moet die burgemeester voor die einde van die kwartaal ‘n verslag indien oor die toepassing van die begroting en die finansiële prestasie van die munisipaliteit. Ofentse Madzebatela van die DA sê die verslag is belangrik want dit hou die raad, die nasionale en provinsiale tesourie en die publiek ingelig oor die finansiële situasie van die munisipaliteit:
# Die Rwandese-gesteunde M23-rebelle het ‘n skietstaking aangekondig wat vandag begin sodat humanitêre hulp die oostelike gedeelte van die Demokratiese Republiek die Kongo kan bereik. Volgens die VN is minstens 900 mense dood en twee-duisend-880 beseer in onlangse gevegte in en rondom Goma, die DRK se grootste oostelike stad, na die rebelle dit beset het. M23 sê hy is nie voornemens om nog grondgebied in die DRK oor te neem nie, maar hy is steeds verbind tot die beskerming en verdediging van die burgerlike bevolking en sy posisies.
# Tennis: Die 2023-kampioen Daniil Medvedev is deur na die tweede ronde van die Rotterdam Ope in Nederland. Die Rus was ‘n stel agter, maar het ingehaal en die 2015-kampioen, Stan Wawrinka van Switserland geklop. Medvedev kom nou teen die Italiaanse kwalifiseerder, Mattia Bellucci, te staan. Die sesde gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland het die kwalifiseerder, Harold Mayot van Frankryk verslaan. Intussen het die Pool, Hubert Hurkacz, die Italianer Flavio Cobolli afgeransel en die vyfde agtereenvolgende jaar na die tweede ronde deurgedring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-600-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-819-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….